Die siening van die Wes-Europese bevolking as afstammelinge van die tien verlore stamme van Israel as samesweringsteorie

Dr. Burgert Senekal, Universiteit van die Vrystaat

Ensovoort, jaargang 46 (2025), nommer 10: 1

Opsomming

This article analyses the belief held by Israel Vision in South Africa – that Western European populations descend from the ten lost tribes of Israel – as a conspiracy theory. It begins by highlighting how conspiracy theories erode trust in authority and social cohesion, citing examples such as COVID-19, QAnon, and various assassinations. The British-Israelism movement, which originated in 19th-century Britain and spread globally, is introduced as the precursor to Israel Vision. While not a formal religion, Israel Vision’s growing online presence suggests increasing adherence in South Africa. The article contends that Israel Vision’s central tenet – that Western Europeans are descendants of the lost tribes and this fact is deliberately hidden – aligns with the definition of a conspiracy theory. It critically examines this viewpoint, especially as promoted by Japie van Zyl, against established conspiracy theory research and the historical trajectory of the movement.

Keywords: Afrikaners, British-Israelism, conspiracy theories, identity, Israel Vision, South Africa, white nationalism, Zionism

Inleiding

Samesweringsteorieë het prominent geword in die hedendaagse inligtingsmilieu omdat dit vertroue in gesagstrukture en sosiale kohesie ondermyn (Douglas et al., 2019:3–4; Douglas en Sutton, 2023:272). Hanley, Kumar en Durumeric (2023) identifiseer COVID-19, QAnon, 9/11, UFO/Aliens, en plat-aarde-teorieë as die vyf mees prominente hedendaagse samesweringsteorieë. Ander voorbeelde van samesweringsteorieë sluit in rakende die sluipmoorde op John F. Kennedy (Gagné, 2022) en H.F. Verwoerd (Marx, 2020), die dood van prinses Diana (Douglas en Sutton, 2008), en die oorsprong van die menslike immuniteitsgebrekvirus (MIV) (Niehaus en Jonsson, 2005; Nattrass, 2013).

Die basiese uitgangspunt van samesweringsteorieë, naamlik dat ‘n klein groepie mense in die geheim saamwerk om die wêreld te beheer, word ook in die Brits-Israeli-beweging en sy vertakkings aangetref (Barkun, 1996). Die Brits-Israeli-beweging is ‘n godsdiens- en kulturele groepering wat die oortuiging sentraal stel dat die Anglo-Saksiese volke die letterlike afstammelinge is van die verlore tien stamme van Israel (Greyling, 1992:47; Katz, 2001:111). Hierdie beweging het gedurende die negentiende eeu in Brittanje ontstaan en het mettertyd na ander dele van die wêreld, insluitend Suid-Afrika, versprei (Wilson, 1968:74; Greyling, 1992:47; Cottrell-Boyce, 2020:1). In Suid-Afrika het dit ontwikkel in ‘n unieke variasie bekend as Israelvisie, wat sy eie spesifieke ideologiese en sosio-politieke eienskappe aangeneem het (Greyling, 1992:47; Kruger, 2006; De Wet, 2021:2). Alhoewel dit nie ‘n formele godsdiens is nie en daar daarom ook nie syfers beskikbaar is van hoeveel aanhangers Israelvisie het nie, dui die teenwoordigheid daarvan op sosiale media daarop dat dit ‘n groeiende godsdiens in Suid-Afrika is (Meyfarth en Nel, 2023:2; Louw, 2024).

Die huidige artikel argumenteer dat die kernelement van die boodskap van Israelvisie/Brits-Israelisme, naamlik dat Wes-Europeërs afstammelinge van die tien verlore stamme van Israel is, maar dat hierdie “feit” weggesteek word, ook as ‘n samesweringsteorie gesien kan word. Hiervoor word gesteun op onlangse navorsing oor samesweringsteorieë deur Douglas en Sutton (2023), wat in verband gebring word met die openbare uitsprake van een van die sigbaarste predikers van Israelvisie in die hedendaagse Suid-Afrika, naamlik Japie van Zyl. Van Zyl se openbare uitsprake rakende die oorsprong van Wes-Europeërs word krities beskou teen die agtergrond van samesweringsteorieë, die wetenskap, en die geskiedenis van die Israelvisie-beweging.

Die artikel is soos volg gestruktureer. Eerstens delf dit in die historiese agtergrond van die Brits-Israeli-beweging en spoor die oorsprong en ontwikkeling daarvan na, voordat dit fokus op die spesifieke manifestasie van Israelvisie in Suid-Afrika. Daarna ondersoek die artikel Israelvisie se kernboodskap sistematies as ‘n samesweringsteorie deur sleutelkenmerke van samesweringsteorieë op die beginsels daarvan toe te pas, met spesifieke verwysing na die sienings van Japie van Zyl.

Etiese kwessies

Hierdie studie fokus op die ontleding van openbare leringe en bestaande literatuur wat verband hou met Israelvisie en Japie van Zyl, eerder as om direk met menslike subjekte te werk. Die navorser ondersoek die inhoud van hierdie leringe krities deur die lens van samesweringsteorieë deur gebruik te maak van gevestigde akademiese definisies en historiese konteks. Deur openbaarbeskikbare inligting (soos YouTube-lesings en gepubliseerde werke) te ontleed en dit te koppel aan breër maatskaplike impakte (soos die historiese verband met gewelddadige groepe, hoewel Van Zyl se verwerping van sulke dade in ag geneem word), dra die studie by tot die begrip van ‘n spesifieke sosiale en godsdienstige verskynsel. Dit poog ook om ‘n akademiese afstand te handhaaf, die terme daarvan te definieer en dit sistematies toe te pas, wat noodsaaklik is vir etiese navorsing in sensitiewe gebiede soos geloofsoortuigings.

Historiese agtergrond

Die oorsprong en ontwikkeling van die Brits-Israeli-beweging in Brittanje

Die idee van ‘n spesiale verbintenis tussen Brittanje en die Bybelse Israel kan tot die middel van die 1600’s teruggevoer word, toe daar ‘n sterk verwagting onder Puriteine van ‘n naderende duisendjarige regering van Christus op aarde was (Barkun, 1996:5; Reisenauer, 1997:106; De Wet, 2021:7). Puriteinse sektariërs het Brittanje as spesiaal deur God gekies, beskou om ‘n sentrale rol te speel in die terugkeer van die Jode na Palestina, as deel van die vervulling van millennistiese profesieë (Barkun, 1996:5). John Sadler het reeds in 1649 hieroor gespekuleer in sy boek, Rights of the Kingdom (1649) (Greyling, 1992:48; Teeter, 2000:9). Die British Israel World Federation (sien verderaan) verwys ook na ‘n ouer boek van Pierre le Loyer, The lost ten tribes found (1590), wat beweer dat die tien verlore stamme van Israel die Engelse nasie gevorm het (Teeter, 2000:10).

Die eerste figuur wat ondubbelsinnig met Brits-Israelisme verbind word, is Richard Brothers (1757-1824), wat in 1791 millennistiese visioene begin ontvang het (Barkun, 1996:6). Teen ongeveer 1793 het Brothers tot die oortuiging gekom dat hy ‘n goddelike sending gehad het om die Jode terug na Palestina te lei, ‘n idee wat herinner aan dié wat reeds in die vorige eeu onder die Puriteine gesirkuleer het (Barkun, 1996:6). In sy A revealed knowledge of the prophecies and times (1794) het hy twee nuwe idees bygevoeg: eerstens het hy besluit dat hy self ‘n afstammeling van die huis van Dawid was; en tweedens, dat die meeste Jode “verborge” was onder bestaande Europese – veral Britse – volke, onbewus van hul verhewe Bybelse afkoms (Barkun, 1996:6; Teeter, 2000:21). Hierdie konsep van ‘n “verborge Israel” wat hulleself as nie-Joods beskou het, het die sentrale motief van Brits-Israelisme geword (Barkun, 1996:6). Ten spyte van Brothers se rol in die popularisering van hierdie idee in die laat-18de eeu, was sy persoonlike eksentrisiteit, wat sy koninklike aansprake ingesluit het, ‘n struikelblok. Hy is in 1795 kranksinnig verklaar en tot in 1806 geïnstitusionaliseer (Greyling, 1992:48; Barkun, 1996:6; Teeter, 2000:23). Hoewel sy volgelinge ‘n tyd lank hul geloof behou het, het hulle ná sy vrylating weggedryf (Barkun, 1996:6). Desondanks het Brothers se idees inspirasie gebied vir diegene wat sou volg, en die konsep van Brittanje se Israelitiese oorsprong kon mense motiveer om te organiseer (Reisenauer, 1997:183; Cottrell-Boyce, 2020:62).

Die Brits-Israeli-beweging, as ‘n georganiseerde sosiale entiteit, het meer as ‘n geslag ná Brothers se dood begin met die geskrifte van John Wilson (1799-1871) (Barkun, 1996:7; Reisenauer, 1997:148). Wilson het lesings in Ierland en Engeland gegee, waar hy sy bewering dat hy die verborge oorsprong van die nasies van Noord-Europa ontdek het, voorgehou het (Barkun, 1996:7; Cottrell-Boyce, 2020:62). Sy sentrale werk, Lectures on Our Israelitish Origin (1840), het in 1840 verskyn en vyf uitgawes beleef, waarvan die laaste postuum in 1876 gepubliseer is (Barkun, 1996:7; Reisenauer, 1997:185; De Wet, 2021:8; Meyfarth en Nel, 2023:2). Hierdie werk, tesame met Wilson se lesings en die tydskrifte wat hy geredigeer het, het die Brits-Israel-boodskap aan ‘n groot middelklasgehoor oorgedra (Barkun, 1996:7).

Wilson se sentrale argument was dat die Anglo-Saksers, asook ander Germaanse volke, die afstammelinge van die verlore tien stamme van Israel was (Barkun, 1996:7; Cottrell-Boyce, 2020:62; Meyfarth en Nel, 2023:2). Hy het dikwels probeer om hierdie verband empiries te bewys deur na woorde in verskillende tale te soek wat eenders geklink het, en dan aan te neem dat as die klanke soortgelyk was, die tale en hul sprekers verbind moes wees (Barkun, 1996:7; Meyfarth en Nel, 2023:2). Hy het byvoorbeeld beweer dat die woord “British” afkomstig is van die Hebreeuse woorde “berit” (verbond) en “ish” (man), wat “verbondsman” beteken, en dat Brittanje (Britannia) die land van die verbond is (Greyling, 1992:48; Kruger, 2006; Meyfarth en Nel, 2023:2). Wilson het ook aangevoer dat baie van die riviere van Europa na die stam van Dan vernoem is, byvoorbeeld die Donau, Don en Dniester (Teeter, 2000:17). Hy was ewe oortuig dat ooreenkomste in sosiale instellings, soos beperkte monargie en jurieverhore, die direkte gevolg was van ‘n Israelitiese erfenis (Barkun, 1996:7). Wilson het ook manifestasies van Israel gevind in ‘n verskeidenheid meestal Noord-Europese volke, insluitend Duitsers, Franse, Switsers, en Skandinawiërs (Barkun, 1996:8). Hy het Brittanje as geestelik uitmuntend beskou, aangesien die Britte afstammelinge van die stam van Efraim, een van Josef se seuns was (Barkun, 1996:8; Cottrell-Boyce, 2020:62). Wilson se pogings om ‘n verbintenis tussen die Britte en ander Germaanse volke te lê het aansluiting gevind by heersende Britse politieke en intellektuele strominge wat Anglo-Saksiese volke aan rasse-superioriteit en ‘n besondere lot gekoppel het (Barkun, 1996:8). Sy tegnieke om ‘n Israelse oorsprong vir die Britte te “bewys” stuur ook ‘n lang tradisie van aanhangers van die Brits-Israeli-beweging van stapel waartydens hulle “mimick […] techniques of historical scholarship so that conclusions might be advanced not merely as statements of faith but as intersubjectively testable knowledge” (Barkun, 1996:163).

Ten tyde van Wilson se dood in 1871 was die taak om sy idees in ‘n sosiale beweging te omskep maar net aan die begin (Barkun, 1996:9). Edward Hine (1825-1891) word as die eerste “ware” Anglo-Israeliet beskou (Katz, 2001:113; Cottrell-Boyce, 2020:2). Hy het sy eerste lesing oor die onderwerp in 1869 gegee en dit die daaropvolgende jaar gepubliseer as Twenty-seven identifications of the English nation with the lost house of Israel (1870), later bygewerk as Forty-seven identifications of the British nation with the lost house of Israel (1874) (Teeter, 2000:26; Katz, 2001:114). Hine het die Teutoonse standpunt teëgestaan wat ook die Germaanse stamme as afstammelinge van Israel ingesluit het, veral namate Duitsland Brittanje se hoofmededinger in Europa geword het. Hine het daarop aangedring dat die Israelitiese erfenis ‘n meer eksklusief Britse aangeleentheid moes wees (Barkun, 1996:7; Teeter, 2000:27; Cottrell-Boyce, 2020:32; De Wet, 2021:11). Hy het ook die British-Israel Identity Corporation gestig, alhoewel dit later in duie sou stort (Teeter, 2000:26; Cottrell-Boyce, 2020:63). ‘n Mede-anti-Teutonis, Edward Wheeler Bird (1823-1903), het die Metropolitan Anglo-Israel Association in Londen gestig en die Brits-Israelitiese koerant The Banner of Israel gepubliseer, wat tot die 1920’s die mees verspreide orgaan van die beweging gebly het (Cottrell-Boyce, 2020:2). In 1880 het die Metropolitan Anglo-Israel Association 1 500 lede gehad (Cottrell-Boyce, 2020:64).

Teen die laat-negentiende eeu was daar reeds talle Brits-Israelitiese klubs, klasse, tydskrifte en nuusbriewe regoor die Verenigde Koninkryk (Cottrell-Boyce, 2020:2). Dit was egter eers in 1919 dat hierdie verspreide elemente hulself in ‘n massabeweging kon organiseer met die stigting van die British-Israel World Federation (BIWF) (Reisenauer, 1997:20; Schönteich en Boshoff, 2003:50; Kruger, 2006; Cottrell-Boyce, 2020:2; Meyfarth en Nel, 2023:3). Meer as negentig organisasies het by die BIWF aangesluit (Cottrell-Boyce, 2020:2; Meyfarth en Nel, 2023:3). Die beweging het sy hoogtepunt in die 1920’s bereik met ‘n lidmaatskap van ongeveer 20 000 (Wilson, 1968:74).

Die belangrikste leerstellings van Brits-Israelisme was die volgende: Die Anglo-Saksiese volke word beskou as afstammelinge van die verlore tien stamme van Israel, wat ‘n posisie van goddelike guns en ‘n kosmiese rol inneem (Wilson, 1968:74; Katz, 2001:112; Cottrell-Boyce, 2020:45). Hulle glo in ‘n kontraktuele verhouding tussen God en Israel, soos uiteengesit in die verbonde en beloftes (Wilson, 1968:77). Hulle het die voortdurende teenwoordigheid van Brittanje as ‘n nasie wat in die naam van God moet regeer en die wêreld moet beskaaf maak, beklemtoon (Wilson, 1968:74; Reisenauer, 1997:3; Katz, 2001:112). Polities gesien, het hul sienings konserwatisme weerspieël (Wilson, 1968:74).

Die beweging se verhouding met Jode was aanvanklik broederlik en paternalisties. Hulle het Jode as broer-Israeliete beskou, afstammelinge van die stamme Juda en Benjamin, en geglo dat hulle deel was van “Heel-Israel” (Barkun, 1996:ix; Reisenauer, 1997:124; Cottrell-Boyce, 2020:33). Hulle het selfs aktief gewerk om Jode in Brittanje te help en hul terugkeer na Palestina onder Britse beskerming te fasiliteer (Barkun, 1996:132; Cottrell-Boyce, 2020:86). Hierdie filosemitiese strekking was duidelik in vroeë publikasies wat anti-Semitiese uitsprake ontken het (Cottrell-Boyce, 2020:84). Met verloop van tyd het ‘n subtiele, maar beduidende doktrinêre verandering egter plaasgevind, veral in die 1940’s (Barkun, 1996:48). Hulle het toenemend begin beweer dat Jode hul plek verloor het deur inmenging met nie-Israelitiese volke soos die Edomiete, afstammelinge van Esau (Barkun, 1996:128; Cottrell-Boyce, 2020:34). Die Khazar-hipotese, wat beweer dat die meerderheid Asjkenasi-Jode afstammelinge is van die Khazars (‘n volk wat in die 8ste eeu tot Judaïsme bekeer is) eerder as Bybelse Israeliete, het ook gewild geword (Barkun, 1996:140; Cottrell-Boyce, 2020:34). Hierdie anti-Sionistiese sentimente het die idee versterk dat ‘n soewereine Joodse staat in Palestina ‘n belediging was vir God se plan, wat die Britte (Israel) vereis het om die Heilige Land te beheer (Barkun, 1996:132; Reisenauer, 1997:131).

Die Brits-Israeli-beweging het as ‘n gewilde verskynsel gefloreer van die laat-19de eeu tot in die 1970’s (Cottrell-Boyce, 2020:1). Trouens, studies het getoon dat dit in gewildheid toegeneem het juis tydens die agteruitgang van die Britse Ryk in die twintigste eeu (Cottrell-Boyce, 2020:18). Ná die Tweede Wêreldoorlog het sekere BIWF-takke die Society for the Proclamation that Britain is Israel (SPBI) gestig, wat later herdoop is tot die Covenant People’s Fellowship (Cottrell-Boyce, 2020:2). Ander kleiner, mededingende organisasies het ook ontstaan (Cottrell-Boyce, 2020:2). Teen die 1970’s het die beweging ‘n geleidelike afname in lede getoon, hoewel dit steeds gemeenskappe oor Brittanje, Ierland, Kanada, Australië, Amerika en selfs Israel versprei het (Cottrell-Boyce, 2020:1).

Die beweging het ‘n inherente doktrinêre permissiwiteit gehandhaaf, wat lede toegelaat het om hul denominasionele affiliasies te behou en ‘n wye reeks interpretasies te huisves, solank hulle die Israelitiese afkoms van die Britte aanvaar het (Barkun, 1996:14; Reisenauer, 1997:144; Cottrell-Boyce, 2020:2). Die Israelitiese afkoms van die Britte is derhalwe die kern van hul siening waaroor nie onderhandel kon word nie.

Israelvisie in Suid-Afrika

Brits-Israelisme het volgens Greyling (1992:50) en Meyfarth en Nel (2023:3) in die vroeë 1920’s na Suid-Afrika gekom, en aanvanklik het die beweging ‘n sterk aanhang gehad onder Engelssprekende Suid-Afrikaners van Britse afkoms. Die Suid-Afrikaanse British-Israel Association, onder die voorsitterskap van A.W. Marris, is in 1928 gestig met ‘n aanvanklike lidmaatskap van 180 lede (Greyling, 1992:50; Meyfarth en Nel, 2023:3). Die amptelike joernaal, The South African National Message, het reeds in 1928 Afrikaanse artikels soos “Wie is die Afrikaners?” gepubliseer, wat probeer het om Afrikaners te oortuig dat hulle deel was van God se Verbondsvolk en daarom hul Engelse landgenote as broers moes aanvaar (Greyling, 1992:55; De Wet, 2021:19).

Die beweging het destyds min aanklank gevind by die Afrikaners (Greyling, 1992:55; Meyfarth en Nel, 2023:3). Die oorspronklike Brits-Israelisme was ‘n hiper-imperialistiese beweging wat die Britse troon en ryk verheerlik het, wat direk in stryd was met Afrikanernasionalisme wat ‘n eie republiek onafhanklik van Britse heerskappy nagestreef het (Greyling, 1992:55; Meyfarth en Nel, 2023:3). Hierdie anti-Britse sentimente het daartoe gelei dat die Brits-Israeli-beweging in sy Angel-Saksiese vorm onaanloklik was vir Afrikaners (Greyling, 1992:55; Meyfarth en Nel, 2023:3).

Die konteks het egter dramaties verander ná 1960. Met die proses van dekolonisasie en Suid-Afrika se uittrede uit die Britse Gemenebes in 1961, het die Engelse deel van die beweging se steun begin kwyn (Greyling, 1992:47). Terselfdertyd het die leerstelling steun begin vind onder Afrikaners (Greyling, 1992:55). Die beweging, wat vroeër hiper-imperialisties was, het ‘n “super-Afrikaner”-beweging geword, met lede wat hulself as deel van die politieke regse kring beskou het (Greyling, 1992:47). Hierdie verskuiwing is verder aangevuur namate die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) begin het om die teologiese grondslag van apartheid te bevraagteken (Greyling, 1992:61). Die NG Kerk se besluite dat apartheid sonde was en die teologiese verdediging daarvan kettery, het diegene wat in apartheid geglo het sonder ‘n ideologiese basis gelaat (Greyling, 1992:61). Die Israelitiese leerstelling dat die wit nasies God se eie volk was in wie die beloftes van God vervul is, het dus baie aantreklik geword (Greyling, 1992:61).

Afrikaanse studiegroepe het ontstaan wat Brits-Israeli-leerstellings bestudeer en hul eie materiaal begin publiseer het (Meyfarth en Nel, 2023:3). F.W.C. Neser word beskou as die mees prominente Israelvisie-ondersteuner en een van die voorlopers en “vaders” van die beweging in Suid-Afrika (Greyling, 1992:56; De Wet, 2021:19; Meyfarth en Nel, 2023:3). Sy eerste boekie, Apartheid. Wat sê die Skrif?  (1956), is reeds in 1956 gepubliseer. In sy 1982-werk (tydens die 1960’s geskryf en herhaaldelik herdruk), Die verlore tien stamme van Israel (2006), het Neser die geloofsoortuiging van die Suid-Afrikaanse Brits-Israeli-beweging uiteengesit (Meyfarth en Nel, 2023:3). Ander belangrike Afrikaanse publikasies sluit in N.A. Burger se Rigters onder die Suiderkruis (1997) en Robert Hayes se Die land oorkant die rivier Kus (1986) (Greyling, 1992:56-57; De Wet, 2021:19). Laasgenoemde is verbied in Suid-Afrika as gevolg van rassisme (Greyling, 1992:57; Meyfarth, 2019:47). Herbert W. Armstrong se Worldwide Church of God en sy tydskrif The Plain Truth  (wat maandeliks ‘n wye leserspubliek gehad het) het ook ‘n beduidende bydrae gelewer tot die verspreiding van Brits-Israelitiese idees in Suid-Afrika (Greyling, 1992:50; Kruger, 2006; De Wet, 2021:20; Meyfarth en Nel, 2023:2).

Die hoofleerstellings van Israelvisie kan soos volg opgesom word: Die wesenlike uitgangspunt is die identifikasie van die Wes-Europese wit mense met die tien stamme van die noordelike ryk van Israel (Venter, 1988:516; Schönteich en Boshoff, 2003:51; Kruger, 2006; De Wet, 2021:2; Meyfarth en Nel, 2023:2). Volgens dié beweging het hierdie stamme, wat in 721 v.C. deur Sargon II in ballingskap na Assirië weggevoer is, ontsnap en onder verskillende name deur die eeue deur Europa getrek en uiteindelik in die Westerse nasies ontwikkel (Venter, 1988:516; Meyfarth en Nel, 2023:2). Voorbeelde wat gegee word, sluit in die Germane, Wes-Gote, Hunne en Vandale (Venter, 1988:516; Kruger, 2006) (Wes-Gote en Vandale is natuurlik Germaanse stamme). Engeland en die Verenigde State van Amerika word beskou as die fisiese afstammelinge van Josef se seuns, Efraim en Manasse (Greyling, 1992:49). Suid-Afrikaanse Israelvisie keer met ander woorde terug na die siening van John Wilson en vroeër, voordat Edward Hine die fokus vernou en beweer het dat slegs die Britte afstammelinge van die Israeliete is. Soos Wilson gebruik die beweging dikwels geografiese identifikasies, byvoorbeeld plekname soos Denemarke en die Donau, om die migrasie van die stam van Dan te “bewys” (Greyling, 1992:49; Kruger, 2006).

‘n Kernaspek van Israelvisie se siening is die radikale skeiding tussen Juda en die tien stamme van Israel (Schönteich en Boshoff, 2003:51; Kruger, 2006; De Wet, 2021:20; Meyfarth en Nel, 2023:2). Jode, as afstammelinge van Juda en Benjamin, word as ‘n “bastergeslag” beskou wat deur vermenging met die afstammelinge van Esau besoedel is, en word dus as God se geswore vyande geag (Schönteich en Boshoff, 2003:51; Meyfarth en Nel, 2023:3). Israelvisie propageer volgens Kruger (2006) ‘n hewige anti-Semitisme, waarin Jode as die “addergeslag” of “slanggeslag” gedemoniseer word, wat wêreldheerskappy najaag en beheer oor media, kapitalisme, kommunisme en regerings uitoefen. Die bewering dat ses miljoen Jode in die Holocaust vermoor is, word deur hulle as ‘n leuen beskou wat bedoel is om simpatie te wek (Kruger, 2006). Hierdie siening van Jode as vyande kontrasteer skerp met die aanvanklike filosemitiese strekking van Brits-Israelisme (Barkun, 1996:ix; Cottrell-Boyce, 2020:82).

Israelvisie se leerstellings is gegrond op ‘n mengsel van letterlike en simboliese Bybeluitleg (Venter, 1988:524; Kruger, 2006). Hulle glo dat die Bybel presiese aanduidings gee van die verloop van gebeure en dat onvervulde profesieë direk op die hedendaagse wit Westerling van toepassing is (Kruger, 2006). Die beweging het ‘n dringende behoefte om die “verborge kennis” dat die blanke die letterlike afstammeling van Israel is, oor te dra, met ‘n sterk eskatologiese fokus op die naderende “uur van middernag” en die finale vervulling van profesieë (Venter, 1988:518). Daar is volgens Venter (1988:520) ‘n “misplaaste konkreetheid” in hul identifikasie van die hedendaagse Israel met die Bybelse Israel. Rasse-eienskappe, soos die vermoë om te bloos, word verkeerdelik as eksklusief vir wit mense beskou en gebruik as bewys van hul Israelitiese afkoms (Venter, 1988:528; Schönteich en Boshoff, 2003:50; Kruger, 2006). Die beweging se eksklusiewe leerstelling dat verlossing slegs beskikbaar is vir diegene van “ware” Israelitiese afkoms, is in stryd met hoofstroomsienings van Bybelse beginsels van inklusiwiteit en die universele omvang van God se verlossingsplan vir alle nasies deur geloof in Christus (Meyfarth en Nel, 2023:7; Louw, 2024). Hannes Redelinghuys sê byvoorbeeld: “Hulle dogma, teologie, hulle leerstelling is nie skriftuurlik nie.” (Louw, 2024).

Die aantrekkingskrag van Israelvisie onder Afrikaners kan verklaar word deur die soeke na identiteit in ‘n post-apartheid-Suid-Afrika (Kruger, 2006; Meyfarth, 2019; Meyfarth en Nel, 2023). Met die vestiging van ‘n nierassige demokratiese Suid-Afrika in 1994, het sommige konserwatiewe Afrikaners ‘n verlies aan magsbasis en identiteit ervaar (Meyfarth en Nel, 2023:2). Israelvisie se leerstellings stem grootliks ooreen met die hoofareas van verlies wat Afrikaners ervaar het, waaronder hul geloof in ‘n goddelike roeping, die belangrikheid van grondbesit, en ‘n intense drang na onafhanklikheid en selfregering (Meyfarth en Nel, 2023:5). Dit bied ‘n ideologiese basis vir hul identiteit en ‘n regverdiging vir hul geskiedenis en hul beleefde verlies aan status (Meyfarth en Nel, 2023:2).

Die beweging het geen gesentraliseerde organisasie wat lidmaatskapgetalle kan verskaf nie, maar die gewildheid daarvan word weerspieël in die aantal groepe op verskeie sosialemediaplatforms wat aan die beweging se leerstellings toegewy is, waarvan sommige duisende aanhangers het (De Wet, 2021:18; Meyfarth en Nel, 2023:1). In die hedendaagse Suid-Afrika is Japie van Zyl (ook bekend as Boerseun van Migdol) een van die hooffigure van die Israelvisie-beweging, asook een van die sigbaarstes (De Wet, 2021:18; Davis, 2022), met 12 500 volgelinge op YouTube en 17 000 (op sy Boerseun van Migdol-blad) of 35 000 (op sy Wat is die waarheid-blad) op Facebook (soos teen 30 Junie 2025). Hy is ook een van die woordvoerders vir Israelvisie waarmee onderhoude in Louw (2024) gevoer is.

Die Israelvisie-beweging is gekoppel aan gewelddadige regse groepe en terreuraanvalle in Suid-Afrika, soos die bomaanval in Shoprite in Worcester in 1996 (Davis, 2022). Schönteich en Boshoff (2003:54) verbind ook Barend Strydom (selfverklaarde leier van die Wit Wolwe), lede van die Orde van die Dood, Eugene Marais, lede van die Boere- aanvalstroepe en Johan de Wet Kritzinger (volgeling van die Wit Wolwe) met Israelvisie, wat tussen 1988 en 2000 verantwoordelik was vir verskeie aanvalle wat gelei het tot verskeie beserings en die dood van swart en bruin mense  (sien ook Greyling, 1992:59). In hierdie opsig is dit belangrik om daarop te let dat Japie van Zyl (2024b) homself distansieer van terreurdade wat vantevore in die naam van Israelvisie gepleeg is, en eerder wetsgehoorsaamheid bepleit. Hy voer ook aan dat indien mense voel dat hulle opgesweep word, hulle liewer sy sosialemediakanale moet verlaat (Van Zyl, 2024b).

Beide Brits-Israelisme en Israelvisie is gewortel in die oortuiging van ‘n spesiale Israelitiese afkoms vir Westerse volke, maar hul ontwikkeling en spesifieke interpretasies verskil aansienlik. Terwyl Brits-Israelisme ‘n komplekse verhouding met Jode gehad het, wat wissel van filosemities tot anti-Semities, het Israelvisie in Suid-Afrika in die 20ste eeu ‘n uitgesproke rassistiese en anti-Semitiese posisie ingeneem, wat die Joodse volk as ‘n vyandige “bastergeslag” beskou (De Wet, 2021:47; Meyfarth en Nel, 2023:3). Die Suid-Afrikaanse konteks van apartheid en die daaropvolgende sosiopolitieke veranderinge het ‘n unieke voedingsbodem gebied vir Israelvisie om te floreer as ‘n ideologiese reaksie op Afrikaneridentiteitskrisisse (Kruger, 2006).

Die Israelvisie-beweging as samesweringsteorie

‘n Omskrywing van samesweringsteorieë

Samesweringsteorieë word oor die algemeen gesien as onbewese pogings om die oorsake van ‘n gebeurtenis te identifiseer deur magtige elites aan die gebeurtenis te koppel. Hierdie siening is duidelik in die definisie van ‘n samesweringsteorie deur Douglas et al. (2019:4): “attempts to explain the ultimate causes of significant social and political events and circumstances with claims of secret plots by […] powerful actors,” of die definisie van Nattrass (2023:1): “evidence-free, improbable narratives about powerful agents conspiring to harm people”. ‘n Samesweringsteorie word onderskei van ‘n sameswering deur hierdie element van bewysbaarheid: ‘n sameswering is “a true causal chain of events” (Douglas et al., 2019:4). Die Watergate-skandaal was byvoorbeeld nie ‘n teorie waaroor mense sonder bewyse gespekuleer het nie; dit was ‘n werklike sameswering wat sistematies ontdek en bevestig is deur onweerlegbare bewyse, en is daarom nie ‘n samesweringsteorie nie.

Met verwysing na ‘n verskeidenheid studies en definisies van samesweringsteorieë, formuleer Douglas en Sutton (2023:287) die volgende omvattende definisie:

“a belief that two or more actors have coordinated in secret to achieve an outcome, and that their conspiracy is of public interest, but not public knowledge. From these defining features of conspiracy theory, other characteristic features follow logically. Thus, conspiracy theories: (a) are oppositional, which means they oppose publicly accepted understandings of events; (b) describe malevolent or forbidden acts; (c) ascribe agency to individuals and groups rather than impersonal or systemic forces; (d) are epistemically risky, meaning that though individual conspiracy theories are not necessarily false or implausible, conspiracy theories taken collectively are more prone to falsity than other types of belief; and (e) are social constructs that are not merely adopted by individuals but shared with social objectives in mind, and that have the potential not only to represent and interpret reality but also to fashion new social realities.”

Die huidige afdeling bespreek die siening van die afkoms van Wes-Europese volke deur Israelvisie as ‘n samesweringsteorie aan die hand van hierdie omvattende definisie en met verwysing na Japie van Zyl se openbare uitsprake, soos vervat in vyf YouTube-lesings wat die oorsprong van die Wes-Europese volke bespreek (2022, 2023b, 2023c, 2023a, 2024a). Hierdie primêre bronne is om twee redes gekies. Eerstens speel die siening dat Wes-Europese bevolkings afstammelinge van Israel is, ‘n sentrale rol by alle vertakkings van Israelvisie en Brits-Israelisme (laasgenoemde beperk tot die Britse bevolking). Alhoewel daar onderlinge verskille binne Israelvisie voorkom – dit is immers nie ‘n gesentraliseerde geloof met amptelike dogma nie – vorm hierdie afkoms die kern van die beweging se sienings. Daarom is die video’s wat hierdie siening bespreek, die fokus. Tweedens word Van Zyl as een van die invoedrykste predikers van Israelvisie in die 21ste eeu gesien (De Wet, 2021:18; Davis, 2022; Louw, 2024), alhoewel hy nie homself met ‘n spesifieke etiket vereenselwig nie (Louw, 2024).

Opposisionaliteit

Douglas en Sutton (2023:287) se definisie dui eerstens daarop dat ‘n samesweringsteorie die oortuiging behels dat die publiek weerhou word van inligting wat hulle behoort te weet (Douglas en Sutton, 2023:283). Hierdie teorieë staan gewoonlik lynreg teenoor wat algemeen as die waarheid aanvaar word, ongeag of dit deur regeringsamptenare ondersteun word of nie (Douglas en Sutton, 2023:283). Diegene wat samesweringsteorieë aanhang, beskou dit as ‘n morele plig om hul “waarheid” te versprei en blameer dikwels diegene wat die gevestigde narratief aanvaar (Douglas en Sutton, 2023:283).

Soos verwag kan word, is Japie van Zyl se leerstellinge ook opposisioneel en gereeld belyn met Israelvisie en Brits-Israelisme in die algemeen s’n. In ooreenstemming met Neser (2006) en Brits-Israelisme, argumenteer hy dat Wes-Europeërs afstammelinge van die tien verlore stamme van Israel is wat tydens die Assiriese ballingskap weggevoer is (2022, 2023b, 2023c, 2023a, 2024a). Waar Neser (2006:34) hierdie nasies geïdentifiseer het as afstammelinge van die Germaanse volke (Noorweërs, Swede, Dene, Nederlanders, Duitsers, Noord-Franse en Engelse) en Keltiese volke (Skotte en Iere), sowel as hul afstammelinge in Noord-Amerika, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika, stel Van Zyl nie eksplisiet watter Wes-Europese volke afstammelinge van die Israeliete is nie, maar wil dit voorkom of hy soos Neser na die Germaanse en Keltiese volke verwys. By implikasie is die Slawiese, Baltiese, Latynse en Griekse volke in hierdie siening onverwant aan Wes-Europeërs.

Hierdie argument word met sterk oortuiging gevoer. Van Zyl spreek sy verbasing uit teenoor mense wat die Afrikaner se Israel-afkoms ontken se “onkunde” en “geestelike onvolwassenheid” (Van Zyl, 2022), voer aan dat dit ‘n “plein geskiedkundige feit” is dat die Afrikaner ‘n afstammeling van Israel is wat nie ontken kan word nie, en dat “enige iemand wat net biblioteek toe gaan en die moeite ag om dit te ondersoek sal sien dat dit werklik die waarheid is” (Van Zyl, 2023b). Hy (2023c) stel dat mense wat nie saam met hom stem dat Afrikaners van Israeliete afkomstig is nie, oningelig is: “Jy hoef nie te lees en op te soek in al hierdie duisende boeke wat ons het om dit te bevestig en te sien waar ons werklik … Jy hoef dit nie te doen nie.” Mense wat hierdie afkoms ontken, doen dit dan volgens hom ook omdat dit nie in hul “ideologie of lering of wat ook al pas nie”. (Van Zyl, 2023b). Hy verskaf volgens hom neutrale “feite”: hy sit “blote feite op die tafel” wat die “snert” dat die Afrikaner nie van die Israeliete afkomstig is nie, na sy mening weerlê (Van Zyl, 2023b). Die “waarheid” staan teenoor wat deur die kerk geleer word:

“Ag man luister dit is plein geskiedenis. Dis nie ‘n geloof, die Israel waarheid nie, dis geskiedkundige feite. En óf jy glo die ensiklopedieë, die opgetekende geskiedenis, óf jy glo ‘n algemene leer wat deur mense begin is in die dae van Konstantyn in die jaar 325 n.C. met die Konsilie van Nicea” (Van Zyl, 2024a).

Van Zyl (2023c) argumenteer ook dat “niemand is so onkundig soos iemand wat [beweer dat Israelvisie ‘n vertakking van Brits-Israelisme is] nie”. Brits-Israelisme het volgens hom eers sedert die 1870’s ontstaan, en is onverwant aan Israelvisie (2023c, 2023a). Hy voer hierdie argument met verwysing na Le Loyer (1590), wat soos reeds genoem ook deur die BIWF as bewys van hul argument aangewend is.

Kwaadwillige komplotte

Tweedens behels samesweringsteorieë byna altyd kwaadwillige komplotte wat teen die openbare belang is en geheimhouding vereis (Douglas en Sutton, 2023:283). Neser (2006:84) verwys byvoorbeeld na: “‘n duiwelse sameswering om die weg van vrede te vernietig en om die mensdom te verslaaf”, beweer die “waarheid” oor Israel se identiteit is “verborge gehou” deur diegene wat “beter behoort te geweet het” (Neser, 2006:84), en word deur die wêreldpers en propaganda onderdruk en “verdaggemaak” (Neser, 2006:85). Satan, met aardse vennote soos Sioniste en Kommuniste (Neser, 2006:76, 123), span dan saam om die Christendom, vryheid en nasieskap te vernietig (Neser, 2006:92).

Van Zyl beskryf ook kwaadwillige of verbode dade, byvoorbeeld die Rooms-Katolieke kerk wat mense glo vervolg het wanneer hulle die “waarheid” oor hul oorsprong as Israeliete bekendgemaak het (Van Zyl, 2023b). In die hedendaagse wêreld probeer “die kerk” die waarheid verdoesel, want as Wes-Europeërs weet waar hulle vandaan kom, sal hulle aanspraak maak op God se beloftes en sal die Messias terugkeer aarde toe (Van Zyl, 2023c, 2024a). Die pogings van “die wêreld” (Van Zyl, 2023c) om hierdie inligting verborge te hou, is hiervolgens ‘n bewuste poging om God se plan te dwarsboom. Sy verwysing na die kerk as die “globaliste” (Van Zyl, 2024a) suggereer ook ‘n komplot, aangesien hierdie woord gereeld met die Een Wêreldorde/Nuwe Wêreldorde verbind word in samesweringsteorieë – “an all-encompassing conspiracy through which biased powers that have infiltrated mainstream structures are attempting to subject humankind to their control” (Madisson en Ventsel, 2022:453). Nietemin is Van Zyl nie soos Neser uitgesproke teenoor die Jode of ander volke nie, en hy sê selfs dat die Bybel enigeen toelaat om te glo in sy eie god (Louw, 2024). Alhoewel Van Zyl se uitsprake baie met Neser se sienings en uitsprake ooreenstem, lê hy met ander woorde nie klem op ‘n bose Sionistiese komplot nie. Tydens die huidige navorsingsprojek is daar ook geen video’s van hom teëgekom wat enige vorm van haatspraak verkondig nie, behalwe die vyandigheid teenoor “die kerk”.

Agentskap van individue en groepe

Samesweringsteorieë impliseer verder dat ‘n klein groepie mense soveel mag het dat hulle belangrike gebeure kan beheer waarvan die publiek moet weet (Douglas en Sutton, 2023:284). Hierdie oortuiging kan die vermoëns van individue en groepe oordryf, selfs dié wat in werklikheid magteloos is (Douglas en Sutton, 2023:284). Verder postuleer samesweringsteorieë doelbewuste en opsetlike optrede deur die samesweerders, met die gevolg dat mense geneig is om agentskap en doelgerigtheid toe te skryf selfs waar dit onwaarskynlik is (Douglas en Sutton, 2023:284). Agentskap word byvoorbeeld deur Neser (2006:76, 123) aan individue en groepe toegeskryf – spesifiek Satan, Jode, Sioniste, en Kommuniste – eerder as onpersoonlike of sistematiese kragte.

Van Zyl (2024a) skryf ook agentskap toe aan individue en groepe eerder as onpersoonlike of sistemiese kragte, hoofsaaklik “die kerk”. Dit is dan “die kerk” wat die “waarheid” oor die herkoms van die Afrikaner en ander Wes-Europeërs verbloem. Van Zyl stel nie duidelik hoe “die kerk” beheer uitoefen oor die wetenskap nie, en soos Neser hanteer hy die wetenskap asof daar nie navorsing oor die herkoms van Wes-Europese volke bestaan wat ‘n ander narratief as die tien-stamme-verhaal aanbied nie, soos in die volgende afdeling bespreek word.

Epistemies riskant

Samesweringsteorieë is inherent geneig om onbewese te wees omdat die beweerde komplotte in die geheim plaasvind, sonder openbare insae, wat die beskikbaarheid van bewyse beperk (Douglas en Sutton, 2023:285). Hoe meer samesweerders daar is en hoe langer die tydsverloop sedert die sameswering na bewering plaasgevind het, hoe groter word die waarskynlikheid dat die geheim sal uitlek (Douglas en Sutton, 2023:285). Hierdie teorieë weerspreek dikwels algemene kennis en veronderstel dat die publiek goedgelowig is, terwyl die samesweerders buitengewoon bekwaam en genadeloos is (Douglas en Sutton, 2023:285). Alhoewel samesweringsteorieë geneig is om vals te wees, voer Douglas en Sutton (2023:285) nietemin aan dat die waarheid of waarskynlikheid van samesweringsteorieë nie as definisiekriteria gebruik behoort te word nie, aangesien dit moeilik is om die waarheid objektief te bepaal. Die epistemies-riskante aspek van samesweringsteorieë verwys met ander woorde na die uitdagings daarmee om hierdie teorieë as waar te bewys, sowel as die opstelling van die samesweringsteorie teenoor die meerderheid betroubare inligting wat oor die onderwerp beskikbaar is.

Neser (2006:5, 230) impliseer dat om hierdie sameswering te verstaan, ‘n dieper, epistemies-riskante “sleutel” van die “Israel identiteit” nodig is. Alhoewel die boek nie self uitgesproke is oor die hoofstroomwetenskap se denke oor die oorsprong van die Germaanse en Keltiese volke nie, staan hierdie standpunt opposisioneel teenoor die wetenskap, aangesien daar reeds teen die 1980’s (toe die boek gepubliseer is) konsensus bestaan het dat die Germaanse en Keltiese volke deel uitmaak van die Indo-Europese volke (sien byvoorbeeld Owen, 1960; Nielsen; 1989). Daar was egter nog nie ooreenstemming oor waar die Indo-Europese volke ontstaan het nie, met twee hoofdenkrigtings: Gimbutas (1965) se Steppe-hipotese, wat voorstel dat die Ponties-Kaspiese steppe (spesifiek die Kurgan-kultuur) die tuisland van die Proto-Indo-Europese tale en volke was, wat deur ‘n reeks migrasies tussen ongeveer 4500 en 2500 v.C. na Europa en dele van Asië versprei het, en Renfrew (1989) se Anatoliese hipotese, wat aanvoer dat die Proto-Indo-Europese tale en volke in Neolitiese Anatolië (hedendaagse Turkye) ontstaan ​​het en na Europa versprei het met die verspreiding van landbou rondom 7000 tot 6500 v.C. Hierdie hipoteses is destyds bespreek in Mallory (1989). Nie een van hierdie twee hipoteses het egter ‘n oorsprong in Israel tydens die 8ste eeu v.C. voorgestel nie. Nietemin beweer Neser (2006:140) dat hy “diep in die sekulêre geskiedenis van die Blanke Westerse Nasies in […] kyk en ver op hulle spoor terug […] gaan”, en elders (2006:182) dat alle sekulêre kennis tot sy gevolgtrekking rakende die oorsprong van die Germaanse en Keltiese volke bydra:

“Al die feite van die Skrif, die geskiedenis, die argeologie en die wetenskap moes sorgvuldig nagegaan en vergelyk word, om al die punte van uitkenning, waarby Israel in die laaste dae geïdentifiseer sou word, raak te sien. Die geskiedenis van die verskillende nasies en die volksverhuisings van rasse is noukeurig nagegaan, totdat uiteindelik die identiteit van die volkere waaruit Israel in die laaste dae sou bestaan, bo alle twyfel vasgestel is.”

Dit is ook belangrik om daarop te let dat Neser (2006:13) voorstel dat die gebiede waar die verlore tien stamme van Israel hul na bewering gaan vestig het, onbewoon was. Hierdie siening van volkeverspreidings maak met ander woorde nie voorsiening vir ‘n klein migrasie van Israeliete wat binne ander volke assimileer nie. Trouens, vermenging met ander volke sou die kernargument van Israelvisie ondermyn:

“Indien Satan daarin kan slaag om die huis van Israel (die Tien Stamme) te vernietig, of deur uitwissing of deur vermenging van hulle bloed, kan die herstel van Israel nie plaasvind nie, en kan Jesus nie terugkeer na die aarde om sy Koninkryk op te rig nie. Satan kan dan nie gebind word nie, en kan hy voortgaan met sy duisterwerk op aarde” (Neser, 2006:21).

Soos met Neser (2006) is Van Zyl (2022, 2023b, 2023c, 2023a, 2024a) se siening epistemies riskant, omdat dit nie ondersteun word deur die meerderheid navorsing oor volkeverspreidings nie. Vir hierdie argument bied hy ‘n verskeidenheid “bewyse” aan, onder andere plekname wat volgens hom na die stam van Dan vernoem is, byvoorbeeld die Donourivier (Van Zyl, 2022); ‘n kaart wat glo volkeverspreidings aandui (Van Zyl, 2023b, 2024a); Handelinge 29, ook bekend as die Sonnini-manuskrip, wat hy beweer doelbewus uit die Bybel gelaat is omdat dit Wes-Europeërs se herkoms as Israeliete bewys (Van Zyl, 2023c, 2023a, 2024a); en die Skotse Onafhanklikheidsverklaring, waarin die Skotte volgens hom erken dat hulle vanaf Israel afkomstig is (Van Zyl, 2022, 2023b, 2023c, 2023a, 2024a). Al hierdie “bewyse” word verbind met die Brits-Israeli-beweging: Neser (2006:156) en Wilson (1840:124) het ook plekname aan die stam van Dan verbind nie; die kaart wat Van Zyl wys, is geteken deur Frederick Aston, W.M.H. Milner en H.H. Pain van die British-Israel Association (Reisenauer, 1997:228); die Sonnini-manuskrip, wat in 1871 in Brittanje opgeduik het, word gesien as ‘n namaaksel (Goodspeed, 1931:95; Moore, 2010:270), en Godspeed (1931:93) glo: “it was composed to support the British-Israel movement which circulates it”. Verder is die Skotse Onafhanklikheidsverklaring ook deur volgelinge van die Brits-Israeli-beweging as bewys van hul afkoms aangebied (Teeter, 2000:9). Van Zyl se hooffokus val op die Skotse Onafhanklikheidsverklaring, en hy wys ‘n skermbeeld hieruit wat volgens hom “aan die pous van die dag erken dat hulle, die Skotte, die afstammelinge van Israel is wat deur die Rooisee getrek het” (Van Zyl, 2023b):

“Most Holy Father, we know and from the chronicles and books of the ancients we find that among other famous nations our own, the Scots, has been graced with widespread renown. It journeyed from Greater Scythia by way of the Tyrrhenian Sea and the Pillars of Hercules, and dwelt for a long course of time in Spain among the most savage peoples, but nowhere could it be subdued by any people, however barbarous. Thence it came, twelve hundred years after the people of Israel crossed the Red Sea, to its home in the west where it still lives today” (teks vanaf National Records of Scotland, 2024).

Die verwysing na Israel hierin is duidelik ‘n tydsmerker van ‘n legendariese reis, en daar is geen bewering hierin dat die Skotte hulself as Israeliete gesien het nie. Nietemin merk Van Zyl (2023b), met verwysing na hierdie deel van hierdie verklaring op: “Dít is hoekom ek sê en weet ons is die afstammelinge van die volk Israel.”

Wat die verspreiding van Indo-Europese volke betref, is Gimbutas (1965) se Steppe-hipotese in die vroeë 21ste eeu in breë trekke deur die meerderheid kenners aanvaar (Anthony, 2007; Iversen en Kroonen, 2017; Olander, 2019; Kristiansen, Kroonen en Willerslev, 2023). Boonop word hierdie hipotese sedert die seminale studies van Haak et al. (2015) en Allentoft et al. (2015) deur genetika ondersteun (sien ook Senekal, 2023). Die “duisende boeke wat ons het om dit [die Afrikaner se Israel-afkoms] te bevestig” (Van Zyl, 2023c) verreken met ander woorde nie hoofstroomdenke rakende die verspreiding van Europese volke nie: argeologie, historiese taalkunde en genetiese navorsing – wat almal die Steppe-hipotese ondersteun (Kristiansen et al., 2023) – word geïgnoreer, en trouens kom die woord Israel nie een keer in die teks van Kristiansen et al. (2023) voor nie. Hierteenoor is die meerderheid “bewyse” wat hy verskaf dat Wes-Europeërs afstammelinge van die verlore tien stamme van die Israeliete is, “bewyse” wat deur die Brits-Israeli-beweging aangebied is en nooit aanvaarding binne hoofstroomdenke rakende volkeverspreidings verkry het nie. Trouens, Barkun (1996:12) verwys na Brits-Israeli-kennis as “verwerpte kennis”: “ideas outside the academy’s definition of respectable knowledge”.

Sosiale konstrukte

Samesweringsteorieë is ten diepste morele en politieke aansprake oor wat die publiek behoort te glo, in teenstelling met die leuens waarmee hulle mislei is om te aanvaar (Douglas en Sutton, 2023:286). Dit maak samesweringsteorieë inherent sosiaal van aard, nie net in hul inhoud nie, maar ook in hul doel: mense deel dit met die hoop om sosiale doelwitte te bereik (Douglas en Sutton, 2023:286). Hierdie teorieë het die potensiaal om samelewings direk te vorm deur alternatiewe, riskante en innoverende interpretasies van die werklikheid te bied, wat gemeenskappe van belang skep en kollektiewe sinmaking en optrede motiveer (Douglas en Sutton, 2023:286). Neser se boek is byvoorbeeld ‘n sosiale konstruk met sosiale doelwitte wat poog om ‘n nuwe sosiale realiteit te skep deur die Westerse wit, Protestantse nasies aan te spoor om hul ware identiteit te ontdek (Neser, 2006:5, 68, 105) en hul rol as God se “uitverkore volk” te vervul (Neser, 2006:105).

Van Zyl se siening is ook sosiaal, omdat hy ‘n nuwe sosiale realiteit probeer skep. Ten spyte van sy stelling dat: “jy hoef nie te glo soos ek glo nie […] scroll verby en blok my” (Van Zyl, 2023c), getuig sy openbare profiel daarvan dat hy mense wil oortuig. Openbare byeenkomste word dan ook vooraf bemark en agterna gevier, met Facebook-plasings wat groot hoeveelhede foto’s insluit van mense wat gedoop is. Die oogmerk is duidelik om ‘n gemeenskap van enersdenkendes te skep wat almal die “waarheid” van hul Israelse afkoms erken.

Slot

Hierdie artikel het gedemonstreer dat elemente van Israelvisie se sienings, veral soos geartikuleer deur Japie van Zyl, ooreenstem met die eienskappe van ‘n samesweringsteorie soos gedefinieer deur Douglas en Sutton (2023). Dit bied ‘n opposisionele narratief en beweer dat die ‘ware’ Israelitiese oorsprong van Wes-Europese volke ‘n “plein historiese feit” is wat doelbewus verberg word deur ‘n kwaadwillige “kerk”, gekoppel aan “globaliste”. Verder toon Israelvisie epistemiese risiko, aangesien die bewerings daarvan die hoofstroom- wetenskaplike en historiese konsensus rakende die oorsprong van Europese bevolkings weerspreek, ten spyte van Van Zyl se bewering dat “geskiedkundige feite” sy siening ondersteun. Terwyl Van Zyl se retoriek nie eksplisiet anti-Semities is soos sommige vroeëre Israelvisie-voorstanders nie, stem sy toeskrywing van ‘n doelbewuste toesmeerdery aan ‘n magtige, enkelvoudige “kerk” ooreen met die samesweringselement van die toeken van agentskap aan individue of groepe eerder as onpersoonlike magte. Deur hierdie sienings deur die lens van die eienskappe van samesweringsteorie te ontleed, beklemtoon hierdie studie die aard van Israelvisie as ‘n geloofsoortuigingstelsel wat nie net gevestigde narratiewe uitdaag nie, maar ook beduidende maatskaplike verberging toeskryf aan ‘n gekoördineerde, klandestiene poging.

Bibliografie

Allentoft, M.E., Sikora, M., Sjögren, K.-G., Rasmussen, S., Rasmussen, M., Stenderup, J., Damgaard, P.B., Schroeder, H., Ahlström, T., Vinner, L., Malaspinas, A.-S., Margaryan, A., Higham, T., Chivall, D., Lynnerup, N., Harvig, L., Baron, J., Della Casa, P., Dąbrowski, P., Duffy, P.R. en Willerslev, E. 2015. Population genomics of Bronze Age Eurasia, Nature, 522(7555):167–172. doi: 10.1038/nature14507.

Anthony, D.W. 2007. The horse, the wheel, and language: How Bronze-Age riders from the Eurasian steppes shaped the modern world. Princeton: Princeton University Press.

Barkun, M. 1996. Religion and the racist Right: The origins of the Christian Identity Movement. Chapel Hill: University of North Carolina Press.

Brothers, R. 1794. A revealed knowledge of the prophecies and times.  Book the first. Wrote under the direction of the Lord God, and published by his sacred command ; it being the first sign of warning, for the benefit of all nations. Containing, with other great and remarkable things, not revealed to any other person on earth, the restoration of the Hebrews to Jerusalem, by the year of 1798, under their revealed prince and prophet, Richard Brothers. Londen: Gedruk in die jaar van Christus.

Burger, N.A. 1997. Rigters onder die Suiderkruis. Mosselbaai: Vaandel-Uitgewers.

Cottrell-Boyce, A. 2020. Israelism in modern Britain. Abingdon, Oxon: Routledge. doi: 10.4324/9780429355486.

Davis, R. 2022. Israel Vision – How the religious cult that drove the Boeremag still flourishes online. https://www.dailymaverick.co.za/article/2022-05-29-israel-vision-how-religious-cult-that-drove-boeremag-still-flourishes-online/ (geraadpleeg op 26 Junie 2025).

De Wet, J. 2021. A historical analysis of Anglo-Israelism and the Hebrew Roots movement in South Africa. MA-verhandeling: Universiteit van Pretoria.

Douglas, K.M. en Sutton, R.M. 2008. The hidden impact of conspiracy theories: perceived and actual influence of theories surrounding the death of Princess Diana, The Journal of Social Psychology, 148(2):210–221. doi: 10.3200/SOCP.148.2.210-222.

Douglas, K.M. en Sutton, R.M. 2023. What are conspiracy theories? A definitional approach to their correlates, consequences, and communication, Annual Review of Psychology, 74:271–298. doi: 10.1146/annurev-psych-032420-031329.

Douglas, K.M., Uscinski, J.E., Sutton, R.M., Cichocka, A., Nefes, T., Ang, C.S. en Deravi, F. 2019. Understanding Conspiracy Theories, Political Psychology, 40(S1):3–35. doi: 10.1111/pops.12568.

Gagné, M.J. 2022. Thinking critically about the Kennedy assassination: Debunking the myths and conspiracy theories. London: Routledge. doi: 10.4324/9781003222460.

Gimbutas, M. 1965. Bronze Age Cultures in Central and Eastern Europe. Den Haag: De Gruyter Mouton.

Goodspeed, E.J. 1931. Strange new gospels. Chicago: University of Chicago Press.

Greyling, C. 1992. From hyper-imperialist to super-Afrikaner: The developments within a white theology, Journal for the Study of Religion, 5(2):47–63.

Haak, W., Lazaridis, I., Patterson, N., Rohland, N., Mallick, S., Llamas, B., Brandt, G., Nordenfelt, S., Harney, E., Stewardson, K., Fu, Q., Mittnik, A., Bánffy, E., Economou, C., Francken, M., Friederich, S., Pena, R.G., Hallgren, F., Khartanovich, V., Khokhlov, A. en Reich, D. 2015. Massive migration from the steppe was a source for Indo-European languages in Europe, Nature, 522(7555):207–211. doi: 10.1038/nature14317.

Hanley, H.W.A., Kumar, D. en Durumeric, Z. 2023. A Golden Age: Conspiracy Theories’ Relationship with Misinformation Outlets, News Media, and the Wider Internet, arXiv. doi: 10.48550/arxiv.2301.10880.

Hayes, R. 1986. Die land oorkant die riviere van Kus. Plaston: Robert Hayes.

Hine, E. 1870. Twenty-seven identifications of the English nation with the lost house of Israel. Londen: Onbekend.

Hine, E. 1874. Forty-seven identifications of the British nation with the lost house of Israel. London: Onbekend.

Iversen, R. en Kroonen, G. 2017. Talking Neolithic: Linguistic and archaeological perspectives on how Indo-European was implemented in Southern Scandinavia, American Journal of Archaeology, 121(4):511–525. doi: 10.3764/aja.121.4.0511.

Katz, D.S. 2001. Israel in America: The Wanderings of the Lost Ten Tribes from Mikveigh Yisrael to Timothy McVeigh, in Bernardini, P. en Fiering, N. (reds.) The Jews and the expansion of Europe to the west, 1450 to 1800. Oxford: Berghahn Books:107–124.

Kristiansen, K., Kroonen, G. en Willerslev, E. (reds.) 2023. The Indo-European Puzzle Revisited: Integrating Archaeology, Genetics, and Linguistics. Cambridge: Cambridge University Press. doi: 10.1017/9781009261753.

Kruger, G.J. 2006. Wit teologie. https://www.ssplus.co.za/apologetiek/wt/witteologie.htm (geraadpleeg op 24 Junie 2025).

Le Loyer, P. 1590. The lost ten tribes found. Onbekend: Onbekend.

Louw, W. 2024. The Illuminated: Israelvisie. Showmax.

Madisson, M.-L. en Ventsel, A. 2022. From strategic depiction of conspiracies to conspiracy theories: RT’s and Sputnik’s representations of coronavirus infodemic, in Demata, M., Zorzi, V. en Zottola, A. (reds.), Conspiracy Theory Discourses, 443–464. Amsterdam: John Benjamins:.

Mallory, J.P. 1989. In search of the Indo-Europeans: language, archaeology and myth. London: Thames & Hudson.

Marx, C. 2020. Trennung und Angst: Hendrik Verwoerd und die Gedankenwelt der Apartheid. De Gruyter. doi: 10.1515/9783110680508.

Meyfarth, L. en Nel, M. 2023. Israelvisie, die Nuwe Suid-Afrika en ‘Afrikaners,’ In die Skriflig/In Luce Verbi, 57(1). doi: 10.4102/ids.v57i1.2917.

Meyfarth, L. 2019. Die Brits-Israeli beweging onder wit Afrikaanssprekendes: Vorming van identiteit in die Nuwe Suid-Afrika. MA-verhandeling: Universiteit van Noordwes.

Moore, P. 2010. Straight to the Heart of Acts: 60 bite-sized insights. Oxford: Monarch Books.

National Records of Scotland 2024. Transcription of the Declaration of Arbroath. https://www.nrscotland.gov.uk/learning-and-events/the-declaration-of-arbroath/transcription-of-the-declaration-of-arbroath/ (geraadpleeg op 27 Junie 2025).

Nattrass, N. 2013. Understanding the origins and prevalence of AIDS conspiracy beliefs in the United States and South Africa, Sociology of Health & Illness, 35(1):113–129. doi: 10.1111/j.1467-9566.2012.01480.x.

Nattrass, N. 2023. Promoting conspiracy theory: From AIDS to COVID-19, Global Public Health, 18(1), p. 2172199. doi: 10.1080/17441692.2023.2172199.

Neser, F.W.C. 1956. Apartheid. Wat sê die Skrif? Vereeniging: F.W.C. Neser.

Neser, F.W.C. 2006. Die verlore tien stamme van Israel. Wonderboompoort: F.W.C. Neser.

Niehaus, I. en Jonsson, G. 2005. Dr. Wouter Basson, Americans, and wild beasts: men’s conspiracy theories of HIV/AIDS in the South African Lowveld, Medical Anthropology, 24(2):179–208. doi: 10.1080/01459740590933911.

Nielsen, H.F. 1989. The Germanic languages: Origins and early dialectal interrelations. Tuscaloosa, Alabama: University of Alabama Press.

Olander, T. 2019. The Indo-European homeland: Introducing the problem, in Olsen, B. A., Olander, T., en Kristiansen, K. (reds.) Tracing the Indo-Europeans. New evidence from archaeology and historical linguistics, 7 – 34. Oxford: Oxbow Books.

Owen, F. 1960. The Germanic people, their origin, expansion, and culture. New York: Bookman Associates.

Reisenauer, E.M. 1997. British-Israel: Racial Identity in Imperial Britain, 1870–1920 . PhD-proefskrif: Lo yola University Chicago.

Renfrew, C. 1989. Archaeology and language. The Puzzle of Indo-European Origins. London: Penguin Books.

Sadler, J. 1649. Rights of the kingdom ; or, Customs of our ancestours : touching the duty, power, election, or succession, of our kings and parliaments ; our true liberty, due allegiance, three estates, their legislative power originall, judiciall, and executive, with the militia: freely discussed through the Brittish, Saxon, Norman, lawes and histories. With an occasionall discourse of great changes yet expected in the world. London: Richard Bishop.

Schönteich, M. en Boshoff, H. 2003. ‘Volk’ faith and fatherland: the security threat posed by the white right. Pretoria: Institute of Security Studies.

Senekal, B.A. 2023. The origin of the Afrikaner: A genetic prehistory and contemporary traces, Ensovoort, 44(11).

Teeter, T.L. 2000. And I shall make thee a great nation. Anglo-Israelism and the quest for a racial theology of empire. Voorgraadse tesis: Texas A&M University.

Van Zyl, J. 2022. Nee dominee, ons ís die afstammelinge van Israel, YouTube, 21 Desember. https://www.youtube.com/watch?v=85BDaDIf8R8 (geraadpleeg op 24 Junie 2025).

Van Zyl, J. 2023a. Die Israel waarheid was nog altyd deel van ons!, YouTube, 6 September. https://www.youtube.com/watch?v=LfHg6iyMhTs (geraadpleeg op 1 Julie 2025).

Van Zyl, J. 2023b. Jý ‘Kaukasiër’ is afkomstig van die Kaukasusberge. Die 10 stamme van Israel, YouTube, 13 Januarie. https://www.youtube.com/watch?v=EsXIPELlYtU (geraadpleeg op 24 Junie 2025).

Van Zyl, J. 2023c. Jy mag nie weet wie jy is nie, YouTube, 22 Januarie. https://www.youtube.com/watch?v=HrqgwYCyxrQ (geraadpleeg op 24 Junie 2025).

Van Zyl, J. 2024a. Die tyd is hier om te weet wie jy werklik is!!!, YouTube, 25 April. https://www.youtube.com/watch?v=8S88U95r2jw (geraadpleeg op 1 Julie 2025).

Van Zyl, J. 2024b. Neem notisie asb!, YouTube, 20 August. https://www.youtube.com/watch?v=gJ_lsWOxsMQ (geraadpleeg op 30 Junie 2025).

Venter, P. M. 1988. Israelvisie: destruksie of dekonstruksie?, HTS Teologiese Studies/ Theological Studies, 44(2). doi: 10.4102/hts.v44i2.2225.

Wilson, J. 1840. Our Israelitish origin. London: Ward & Co.

Wilson, J. 1968. British Israelism, The Sociological Review, 16(1):41–57. doi: 10.1111/j.1467-954X.1968.tb01291.x.