‘Famous vir apartheid, rugby en gekskeer’: Die beeld van die Afrikaner op Instagram

Titel: ‘Famous vir apartheid, rugby en gekskeer’: Die beeld van die Afrikaner op Instagram
Dr. Burgert Senekal, Universiteit van die Vrystaat.

Ensovoort, volume 43 (2022), nommer 10: 2

Opsomming

Die begrip Afrikaner het oor die afgelope drie eeue verskillende betekenisse aangeneem soos die bevolking wat deur hierdie term beskryf word ook by veranderende omstandighede aangepas het. Die huidige studie stel ondersoek in na watter begrippe tans met die Afrikaner verbind word. Hiervoor word alle plasings wat op een van die gewildste sosialemediaplatforms, Instagram, met die hutsmerk #afrikaner gemaak is, ontleed. Hutsmerke wat saam met hierdie hutsmerk aangetref word, word ondersoek, en daar word aangetoon dat veral humor, erfenis, taal, en ‘n landelike omgewing sterk met die Afrikaner verbind word, terwyl politiek (apartheid en plaasaanvalle) en die Christelike geloof tot ‘n mindere mate op hierdie platform met die Afrikaner verbind word, alhoewel hierdie nie weglaatbare begrippe in die konteks van die Afrikaner is nie. Voorstelle word ook gemaak vir verdere studies.

Kernwoorde: Afrikaner, Afrikaans, Afrikaneridentiteit, Suid-Afrika, Instagram

Inleiding

In “Volk van main” (K.O.B.U.S.!, 2004) sing K.O.B.U.S.!: “Afgesonder sit ons volkie oor musiek en debatteer, famous vir apartheid, rugby en gekskeer.” Hierdie liriek belig drie begrippe wat wêreldwyd met die Afrikaner verbind word:

  1. Apartheid is so welbekend dat die woord in verskeie tale (onder andere in Engels) opgeneem is en ook in ander kontekste gebruik word om politieke stelsels te verdoem, byvoorbeeld in die konteks van Israel;
  2. Met drie Wêreldbekeroorwinnings sedert 1994 staan die Suid-Afrikaanse rugbyspan, wat sterk met Afrikaners verbind word, bekend as ‘n rugbyspan wat gemiddeld een van die bestes ter wêreld is;
  3. Films soos dié van Jamie Uys en Leon Schuster het gehore wêreldwyd aan (Suid-)Afrikaanse humor bekendgestel.

K.O.B.U.S.! se stelling is uiteraard ‘n waarneming, maar die vraag is in hoe ‘n mate hierdie waarneming deur data ondersteun kan word, en wat andersins met die Afrikaner verbind word. Dít is die doel van die huidige studie.

Die huidige studie stel ondersoek in na watter begrippe met die Afrikaner verbind word. Hiervoor word gebruik gemaak van die sosialemediaplatform, Instagram, wat wêreldwyd tans die vyfde gewildste sosialemediaplatform is (naas Facebook, YouTube, WhatsApp en Messenger) (Ang, 2021) en in Suid-Afrika die vierde gewildste sosialemediaplatform is (naas WhatsApp, YouTube en Facebook) (Ornico/World Wide Worx, 2021:62). Die huidige studie ondersoek alle plasings wat op Instagram met die hutsmerk #afrikaner gemaak is, sowel as die hutsmerke wat saam met hierdie hutsmerk gebruik is, ten einde te bepaal watter begrippe gereeld op hierdie platform met die Afrikaner verbind word.

Die artikel is soos volg gestruktureer. Eerstens word die term Afrikaner bespreek en in ‘n historiese konteks geplaas. Hierna word die metodes bespreek wat in die huidige studie gebruik is, waaronder die keuse van ‘n sosialemediaplatform, dataversameling, data-ontleding en datavisualisasie. Hierop volg ‘n bespreking van die resultate. Die artikel sluit af met slotopmerkings en voorstelle vir verdere studies.

Die term Afrikaner

Die term Afrikaner is kontroversieel en het oor die afgelope drie eeue verskillende betekenisse aangeneem. Combrink (2019:222) skryf: “Die definisie van Afrikanerskap is iets so kenmerkend soos die mense wat hierdie etiket dra, al telkemale oor gestry, gedebatteer en vele male probeer om te herdefinieer.” Die huidige afdeling verskaf ‘n kort oorsig oor dié term.

In die laat agttiende en vroeë negentiende eeu was die term Afrikaanders ‘n neerhalende term wat gebruik is vir mense van gemengde ras in die Kaapkolonie, maar deur die loop van die negentiende eeu het dit ‘n toenemend algemene term geword vir Afrikaanssprekende koloniste wat aan die suidpunt van Afrika gebore is (Du Toit, 2008:567). In die laat negentiende eeu het die term Afrikaners in die Kaapkolonie gewild geword om na wit Afrikaanssprekende persone te verwys, terwyl die wit Afrikaanssprekende persone in die Boererepublieke na hulself as Boere verwys het (Du Toit, 2008:567).

Ná die Anglo-Boereoorlog het die term Afrikaners gewilder geword onder alle Afrikaanssprekende wit mense, alhoewel die term steeds gereeld afwisselend met Boer gebruik is (Pienaar, 2007:12).  In 1902 het die Patriot Woordeboek ‘n Afrikaner byvoorbeeld gedefinieer as ‘n wit persoon wat in Afrika gebore is (Pienaar, 2007:13). Deur die loop van die twintigste eeu het die term Afrikaners toenemend op wit mense begin dui en Afrikanerleiers soos DF Malan en JBM Hertzog het die term Afrikaner in die sin van Hollandse of Afrikaanssprekende wit mense gebruik (Pienaar, 2007:13). Hierdie definisie het deur die loop van die twintigste eeu gevestig geraak en in Senekal (2019b) is aangedui dat die Afrikaner deesdae oorwegend as wit gesien word, maar belangriker nog: dat ras ‘n groot komponent van die Afrikaner se identiteit uitmaak.

Die siening van die Afrikaner as wit word ook deur genetika bevestig, waar Hollfelder et al. (2020) byvoorbeeld gevind het dat die Afrikaner gemiddeld 95,3% van Europese herkoms is, met die oorblywende 4,7% mense wat in koloniale tye as slawe na die Kaap gebring is (3,4%, meesal slawe van Asië) en van plaaslike Khoe-San mense (1,3%). Rakende die Afrikaners se Europese herkoms het Hollfelder et al. (2020) ‘n meer noordwestelike (eerder as suidelike of oostelike) Europese komponent gevind, met Afrikaners se grootste genetiese komponent afkomstig van Nederland en Duitland (61 – 71%), intermediêr van Frankryk (13 – 26%), met baie kleiner breukdele van ander Europese groepe. Interessant genoeg let hulle op die relatief klein bydraes wat Britse mense tot die Afrikanerbevolking se genetiese samestelling gemaak het.

Die Afrikaner is egter meer as net wit Afrikaanssprekendes. HB Thom beskryf DF Malan soos volg (aangehaal in Pienaar, 2007:13):

Al behoort die meeste Afrikaners aan die politieke party waaraan dr. Malan behoort het, en al behoort die meeste Afrikaners aan die kerk waaraan hy behoort het, is dit denkbaar dat daar mense kan wees wat nie aan daardie party en daardie kerk behoort nie, en nogtans Afrikaners kan wees. Maar as ʼn man nie vir sy volk, vir sy taal, sy nasionale verlede en sy nasionale simbole omgee nie, kan hy nie Afrikaner, Afrikanermens wees nie. Dr. Malan het aan die Kerk en aan die Party van die meeste Afrikaners behoort en het bowendien op uitmuntende wyse voldoen aan die gewone norme wat vir die Afrikanermens geld.

Om volgens Thom ‘n Afrikaner te wees, moet mense met ander woorde met die Afrikaner se geskiedenis, taal en simbole identifiseer. Boonop kan uit Thom se stelling afgelei word dat om ‘n Christen te wees ook ‘n belangrike komponent van Afrikaner-wees is, al sien Thom nie ‘n verbintenis met ‘n spesifieke kerk as noodsaaklik vir Afrikaner-wees nie. Pienaar (2007:11) skryf ook dat die Afrikaner in die begin van die twintigste eeu as wit, Afrikaanssprekend, Calvinisties en patrioties bekendgestaan het. Hierdie begrippe word steeds in breë trekke met die Afrikaner verbind; Combrink (2019:222) verwys byvoorbeeld na Eugène Terre’Blanche, wat in 1998 die volgende kenmerke van ‘n Afrikaner identifiseer:

  1. Christelik en God-vresend;
  2. Aanvaarding van die skellende klimaat- en weerselemente van die Afrika-kontinent;
  3. Trots en patriotisme teenoor die Afrikanervolk;
  4. Sin van die geskiedenis;
  5. Bittereinders, mense wat sterk bly ten spyte van moeilike omstandighede;
  6. Wit;
  7. Afrikaans (nie-noodsaaklike eienskap).

Taal, geloof, en die identifisering met die herkoms van die Afrikaner is met ander woorde belangrike begrippe wat met die Afrikaner verbind word (alhoewel dit onduidelik is waarom Terre’Blanche taal as ‘n nie-noodsaaklike eienskap identifiseer). Combrink (2019:225) skryf egter dat daar te veel sienings bestaan van wat ‘n Afrikaner is en moet wees en dat Afrikaner-wees nie te eng omskryf moet word nie.

Vestergaard (2001:20) se omskrywing van die Afrikaner oorvleuel sterk met bostaande kenmerke soos deur Terre’Blanche uitgesonder:

This Afrikaner identity was based on values of God-fearing Calvinism, structures of patriarchal authority (husband and father, priest, school principal, political leaders – all of whom were representing God on earth), adherence to the traditions invented by the nationalist movement, conservative values such as the fundamental importance of the nuclear family and heterosexuality, and, above all, the importance of whiteness.

Kenmerke van die Afrikaner word soms helderder uitgelig wanneer Afrikaners in die buiteland bestudeer word. In hierdie opsig is Hendrich (2013) se studie van Afrikaners in Rhodesië (tans Zimbabwe) veral interessant. Hendrich (2013:156) beskryf hierdie Afrikaners: “As landelike bevolkingsgroep het hierdie Afrikaner-trekkers vanweë hul Christelik-Calvinistiese geloofsoortuigings en as voorstanders van ’n republikeinse ideaal ’n konserwatiewe leefstyl openbaar.” Konserwatiewe waardes, die strewe na vryheid en die Christelike geloof was met ander woorde belangrike eienskappe van Afrikaners in Rhodesië, en die feit dat hulle ook monumente vir die Voortrekkers opgerig het en geskiedkundige dae soos Geloftedag gevier het, wys dat die identifisering met die Afrikaner se geskiedenis ‘n belangrike verdere eienskap van hierdie Afrikaners was. Laastens dui die taalstryd in Rhodesië en Afrikaners se aandrang op moedertaalonderrig (Hendrich, 2013:159) ook daarop dat die taal as ‘n belangrike eienskap van Afrikaners geag is.

Finlayson (2019) bestudeer hedendaagse Afrikanerimmigrante in Nieu-Seeland en bevind (2019:153) dat Afrikanerskap ten opsigte van vier dimensies beskryf kan word:

  1. ‘n gedeelde biologiese erfenis;
  2. die beoefening van Protestantse Christendom;
  3. om Afrikaans te praat; en
  4. deur ‘n bepaalde sosiale waardesisteem te gebruik, wat dikwels as konserwatisme beskryf word.

Dit is opvallend dat ras nie ‘n eienskap is wat deur Finlayson (2019) uitgesonder word nie, wat moontlik toegeskryf kan word daaraan dat die Afrikaners in sy studie sterk pogings aangewend het om van die stigma van apartheid te ontsnap.

Neem ‘n mens bostaande insigte van Vestergaard (2001), Pienaar (2007), Hendrich (2013) en Finlayson (2019), kan die volgende lys van eienskappe geïdentifiseer word wat sterk met die Afrikaner verbind word:

  1. Afrikaanssprekend
  2. Wit
  3. Ontstaan in Suid-Afrika
  4. Konserwatief
  5. Protestants Christelik
  6. Sterk bewussyn van erfenis

Hierdie is eienskappe wat oor die algemeen met die Afrikaner verbind word, maar dit beteken nie dat mense nie Afrikaners is as hulle nie aan al hierdie eienskappe voldoen nie – trouens, mense is Afrikaners indien hulle identifiseer as Afrikaners en/of as hulle as Afrikaners geag word. K.O.B.U.S.! (2004) se reeds genoemde liriek is in hierdie opsig interessant, omdat hulle verwys na ons volkie wat sit en debatteer –  K.O.B.U.S.! identifiseer hulself met ander woorde ook as Afrikaners, alhoewel hulle as een van die min metal-groepe in Afrikaans uiters alternatief is. Combrink (2019) identifiseer haarself ook as ‘n Afrikaner, alhoewel sy nie haarself kan verbind tot die Afrikaneridentiteit wat sy op Orania sien nie. Daar is met ander woorde baie variasie- en kombinasiemoontlikhede binne ‘n Afrikaneridentiteit. Verder is die Afrikaneridentiteit nie staties nie, alhoewel daar ‘n groot mate van kontinuïteit is ten opsigte van tydperke wat hierbo beskryf is.

Daar is ook sommige wit Afrikaanssprekendes wat die term Boer bo Afrikaner verkies (Du Toit, 2013). Die term Boer is rondom die tyd van die Anglo-Boereoorlog gebruik om spesifiek te verwys na Hollandse inwoners van die Boererepublieke (Pretorius en Froneman, 2018:758). Ná Republiekwording in 1961 is die term minder gereeld gebruik as gevolg van pogings van die heersende Nasionale Party (NP) om wit eenheid te bevorder (Pretorius en Froneman, 2018:758). In die 1980’s, teen die agtergrond van groot verdeeldheid onder Afrikaners en die wit bevolking oor die algemeen, is die term Boer weer meer gereeld gebruik. Eugene Terre’Blanche verduidelik byvoorbeeld die verskil tussen Boer en Afrikaner: “Daar bestaan eintlik nie so ’n ding soos ’n Afrikaner nie. Dié wat uit die Kaap weggetrek het, is Boere. Hulle het oorloë teen Engels (sic) en swartmense gevoer” (aangehaal in Pretorius en Froneman, 2018:758) (Terre’Blanche was natuurlik die stigterslid van die Afrikaner Weerstandsbeweging en het hierbo ‘n ander definisie van die Afrikaner verskaf). In dieselfde tydsgewrig voer Robert van Tonder van die Boerestaat Party ook aan: “We are not asking for a white state nor are we asking for an Afrikaner state. We are asking for a Boer state” (aangehaal in Onafhanklike Ondersoek Raad, 1996:22). Volgens Du Toit (2013) verbind sommiges die term Boer met die konserwatiewe, Christelike, wit Afrikaanssprekendes wat in die voormalige Boererepublieke gebore is en hulself vir vryheid beywer het, terwyl die term Afrikaner na die meer liberale wit Afrikaanssprekendes in die Kaap verwys wat nie ‘n vergelykbare strewe na vryheid gehad het nie. Hy (2013) betwis egter hierdie onderskeid en die siening dat daar twee wit Afrikaanssprekende volke in Suid-Afrika bestaan, want dit sou beteken dat JBM Hertzog, DF Malan, JG Strijdom en Andries Treurnicht Afrikaners en nie Boere was nie. Hy (2013) wys ook daarop dat FW de Klerk in Transvaal gebore is en daarom by implikasie ‘n Boer sou wees.

In die huidige studie word daar nie ‘n onderskeid tussen Boere en Afrikaners getref nie. Afrikaners word gesien as wit Afrikaanssprekende persone wat hulself met die Afrikaner se taal, herkoms en kultuur verbind of wat hiermee verbind word.

Die volgende afdeling bespreek die metodes wat in die huidige studie gevolg is.

Metodes

Die keuse van Instagram

Data is vir die huidige studie vanaf Instagam versamel. Instagram is gekies omdat hierdie platform een van die gewildste sosialemediaplatforms in Suid-Afrika is (Goldstuck, 2020:52; Ornico/World Wide Worx, 2021:62), wat beteken dat ‘n groter deel van die Suid-Afrikaanse bevolking betrek word as wat byvoorbeeld die geval sou wees met byvoorbeeld TikTok. Instagram was teen 2020 min of meer so gewild soos Twitter (Goldstuck, 2020:52), maar teen 2021 het Instagram Twitter verbygesteek en is tans die vierde gewildste sosialemediaplatform in Suid-Afrika, naas WhatsApp, YouTube en Facebook (Ornico/World Wide Worx, 2021:62). Boonop het Instagram-gebruik skerp toegeneem van 4,7 miljoen aktiewe gebruikers in Suid-Afrika in 2020 tot 7,1 miljoen in 2021 (Ornico/World Wide Worx, 2021:77).

‘n Tweede rede vir die keuse van Instagram is dat aspekte van die uitbeelding van die Afrikaner reeds op Twitter bestudeer is, by name die siening van of ras ‘n komponent van die begrip Afrikaner uitmaak (Senekal, 2019b), en of die Afrikaner as positief of negatief gesien word (Brokensha, Kotzé en Senekal, 2019). Hierteenoor is die uitbeelding van die Afrikaner nog nie op Instagram bestudeer nie. Daar is wel voorheen ondersoek ingestel na die ras van persone wat die Afrikaanse Taalmonument besoek en dan foto’s oor hulle besoek op Instagram geplaas (Kotzé en Senekal, 2020), maar hierdie studie het ondersoek ingestel na besoekers, nie Afrikaners as sodanig nie.

Twitter staan ook bekend daarvoor dat dit ‘n politieke platform is, en soos uit Senekal (2019b, 2020) en Brokensha, Kotzé en Senekal (2019) gesien kan word, word die Afrikaner op Twitter gereeld by politieke kwessies soos grondonteiening, apartheid, kolonialisme en plaasaanvalle betrek. Daar kan verwag word dat dieselfde op Instagram sal gebeur, maar dit is ook verwag dat die Afrikaner by veel meer onderwerpe betrek sal word op Instagram as op Twitter omdat Instagram ‘n meer diverse platform is.

Laastens is daar die kwessie van die beskikbaarheid van data. Facebook se data is ontoeganklik en Twitter se data kan nie terugwerkend versamel word nie (Senekal, 2019a:80). Instagram-data kan egter terugwerkend versamel word, wat beteken dat die uitbeelding van die Afrikaner op Instagram oor ‘n groter tydperk bestudeer kan word as wat die geval is op Twitter. Vir die huidige studie word die hele tydperk ondersoek waarin plasings met die hutsmerk #afrikaner geplaas is.

Die volgende onderafdeling bespreek die keuse van die hutsmerk.

Die keuse van die hutsmerk #afrikaner

Die woord Afrikaner dra verskillende betekenisse in verskillende tale. In Duits, Deens en Sweeds dui die woord byvoorbeeld op “iemand vanaf Afrika” (ongeag ras, taal of land van oorsprong) terwyl die woord in Frans, Afrikaans en Engels na ʼn wit Afrikaanssprekende verwys (Senekal, 2019b). Indien sosialemediaplasings met die hutsmerk #afrikaner versamel word, sal daar met ander woorde ook plasings wees wat na mense vanaf Afrika verwys en nie noodwendig na die Afrikaner soos voorheen omskryf nie. In Senekal (2019b) en Brokensha, Kotzé en Senekal (2019) is hierdie probleem aangespreek deur slegs Engelse plasings te versamel en daardeur plasings met die relevante betekenis van die woord Afrikaner te bekom, maar in die huidige studie is daar eers ondersoek ingestel na watter tale die meeste voorkom. Die taal van plasings is in die huidige studie outomaties herken soos in Senekal (2019b) en die resultate kan in Tabel 1 gesien word.

Tabel 1. Die tale waarin die meeste plasings gemaak is

Taal Telling % van totaal
Afrikaans 3920 34,34%
Engels 3294 28,85%
Duits 1516 13,28%
Turks 1512 13,24%
Deens 376 3,29%
Frans 91 0,80%
Pools 82 0,72%
Sweeds 74 0,65%
Geen taal 54 0,47%
Noors 54 0,47%

Die meerderheid plasings is met ander woorde in Afrikaans en Engels, maar Frans figureer ook. Ter wille daarvan om slegs relevante plasings te ontleed, is slegs plasings in Afrikaans, Engels en Frans hieronder gebruik, wat beteken 7 305 of 63,99% van die hele datastel van 11 416 plasings is gebruik.

‘n Ander oplossing vir die meerduidige betekenis van die woord Afrikaner is om die meervoudsvorm, Afrikaners, te gebruik, aangesien die meervoudsvorm ook meesal die verskillende betekenisse van die term vervat. In Engels is die meervoudsvorm byvoorbeeld Afrikaners, in Deens afrikanere, in Duits Afrikaner, en in Frans Afrikaners. Dit beteken dat oorwegend relevante plasings met die hutsmerk #afrikaners versamel sal word. Die hutsmerk #afrikaners het egter veel minder plasings (2 216 plasings) opgelewer en daar is om hierdie rede besluit om eerder plasings met #afrikaner in Afrikaans, Engels en Frans te gebruik.

Dit is belangrik om daarop te let dat daar nie in die huidige studie ‘n onderskeid gemaak kan word tussen hoe Afrikaners hulself sien, en hoe Afrikaners deur ander gesien word nie. Alhoewel plasings in Afrikaans meesal deur Afrikaanssprekende persone gemaak sal word, is plasings in Engels nie noodwendig ‘n aanduiding daarvan dat die persoon Engels is nie: Engels is die wêreldtaal en Afrikaanssprekende persone mag moontlik kies om in Engels oor die Afrikaner te skryf. Identiteit word beide van binne en van buite opgelê; soos Nagel (1994:154) aanvoer is identiteitsvorming ‘n: “dialectical process involving internal and external opinions and processes, as well as the individual’s self-identification and outsiders’ ethnic designations – i.e., what you think your ethnicity is, versus what they think your ethnicity is” (oorspronklike klem). Die huidige studie neem met ander woorde beide binne- as buiteperspektiewe in ag, en kan nie ‘n onderskeid tussen die twee tref nie.

Die volgende onderafdeling bespreek die versameling van data.

Dataversameling

Data is met behulp van die Apple-toepassing, Instabro (https://instabro.app), versamel. Hierdie toepassing laat die navorser toe om metadata oor Instagram-plasings te versamel, byvoorbeeld die datum en tyd van plasings, die byskrifte wat saam met plasings gebruik is, die aantal houvans (“likes”) en kommentare wat plasings ontvang het, die soort plasings (foto’s, video’s en skyfies), en unieke kodes vir gebruikers (wat hulle name verberg maar dit moontlik maak om die getal gebruikers te tel). Hierdie data kan in ‘n gestruktureerde formaat afgelaai word vir verdere ontleding. Alle plasings met die hutsmerk #afrikaner is in die huidige studie gebruik, van die eerste tot die mees onlangse, maar aangesien die data in Januarie 2022 versamel is, is 2022 se data verwyder ten einde ‘n volledige opgawe tot einde 2021 te kan verskaf.

Die verdere ontleding van die datastel is in Google Sheets (https://www.google.com/sheets/about/) behartig, wat dit moontlik gemaak het om die taal van plasings te herken, die aantal woorde te tel, hutsmerke te onttrek, die getal hutsmerke per plasing te tel, ensovoorts. Basiese berekenings en die klassifikasie van hutsmerke is ook in Google Sheets voltrek.

Die resultate is gevisualiseer met behulp van Flourish (https://flourish.studio), wat meer gevorderde visualiserings bemiddel as wat met Google Sheets of Google Data Studio (https://datastudio.google.com/u/0/) moontlik is. Flourish se interaktiese visualiserings het dit ook moontlik gemaak om foute in die data te identifiseer, wat dan weer in Google Sheets gekorrigeer is, voor resultate weer in Flourish ingevoer is. Flourish is ‘n gratis aanlynplatform en die visualisasie vir die huidige projek is beskikbaar by https://public.flourish.studio/story/1116850/.

Die klassifikasie van hutsmerke

In navolging van Ichau, Frissen en d’Haenens (2019) en Senekal (2021) is hutsmerke geklassifiseer op grond van kategorieë wat uit die data na vore gekom het. Vir die huidige studie is daar op die volgende tien kategorieë besluit:

  1. Meta, wat hutsmerke insluit wat ‘n plasing beskryf, byvoorbeeld #grappie, #memes en #stories;
  2. Plek, wat spesifiek na ‘n land, streek of stad verwys, byvoorbeeld #suidafrika, #southafrica en #vrystaat;
  3. Erfenis en kultuur, wat na kultuurgroepe, geskiedenis en ander begrippe verwys wat met ‘n spesiefieke kultuur saamhang, byvoorbeeld #afrikaners, #afrikaner en #afrikanersisplesierig;
  4. Taal, wat verwys na tale en verbindings met tale, byvoorbeeld #afrikaans, #afrikaansememes en #taal;
  5. Instagram en sosiale media, wat insluit hutsmerke wat eie is aan Instagram en ander verwysings na sosialemediaplatforms, byvoorbeeld #instagood, #repost en #instalike;
  6. Natuur, wat hutsmerke insluit wat saamhang met die natuur, byvoorbeeld #mountains, #nature en #outdoors;
  7. Politiek, wat hutsmerke insluit wat politieke kwessies betrek, byvoorbeeld #apartheid, #plaasmoorde en #racism;
  8. Geloof, wat hutsmerke bevat wat spesifiek met geloof saamhang, byvoorbeeld #geloof, #god en #jesus;
  9. Grond, wat hutsmerke insluit wat na grond, plaaslewe en verwante begrippe verwys, byvoorbeeld #plaas, #ploeg en #plaasmemes;
  10. Sport, wat enigiets bevat wat met sport saamhang, byvoorbeeld #rugby, #springboks en #springboksupporter.

Kategorieë 1, 7 en 10 kan teen die agtergrond van K.O.B.U.S.! se genoemde liriek gelees word, naamlik dat die Afrikaner bekend is vir “apartheid, rugby en gekskeer,” maar hierdie kategorieë is ook geskep omdat ‘n groot hoeveelheid hutsmerke voorgekom het wat juis met hierdie kategorieë saamhang. Kategorieë 2, 3, 4 en 8 hou verband met hoe Thom en ander die Afrikaner konsepsualiseer, maar dit was weereens die groot hoeveelheid hutsmerke wat daartoe gelei het dat hierdie kategorieë geskep is. Kategorie 9 het ook uit die data na vore gekom: die Afrikaner se verbintenis tot die grond en landbou is welbekend en word byvoorbeeld in die Afrikaanse plaasroman, musiek van verskeie Afrikaanse kunstenaars (byvoorbeeld Bok van Blerk of Thys die Bosveldklong) en in Afrikaanse films (byvoorbeeld Vrou soek boer of Treurgrond) aangetref. Een uitdaging met hierdie kategorie is egter dat Instagram-gebruikers nie altyd ‘n onderskeid maak tussen boer en Boer nie, en daarom moes besluit word of die hutsmerk #boer (en samestestellings met boer) onder erfenis en kultuur geklassifiseer word (soos #afrikaners), of onder grond (soos #farmer). Uiteindelik is daar besluit om #boer onder grond te klassifiseer omdat beide boer en Boer ‘n verbintenis tot die grond impliseer.

Die volgende afdeling bespreek die resultate.

Resultate

Opsomming

Tabel 2 verskaf ‘n opsomming van die datastel, met plasings wat in Afrikaans, Engels en Frans gemaak is.

Tabel 2 ‘n Opsomming van die datastel

Veranderlike Waarde
Datum van eerste plasing 2012-05-30
Datum van laaste plasing 2021-12-31
Dae 3 502
Jare 9
Getal plasings 7 305
Getal gebruikers 1 652
Gemiddelde plasings per dag 2,09
Gemiddelde plasings per gebruiker 4,42
Getal hutsmerke gebruik 122 593
Getal unieke hutsmerke gebruik 14 230
Gemiddelde getal hutsmerke gebruik per plasing 16,78
Totale getal houvans 842 974
Gemiddelde houvans per plasing 115,40
Getal plasings sonder houvans 54
Totale kommentare 23 960
Gemiddelde kommentare per plasing 3,28
Plasings sonder kommentare 3 123
Totale getal woorde 369 406
Gemiddelde getal woorde per plasing 50,57
Getal foto’s 5 559
Getal video’s 654
Getal skyfies 1 092

Daar was 7 305 plasings in Afrikaans, Engels en Frans met hierdie hutsmerker tussen 2012 en 2021 teen ‘n gemiddeld van 2,09 plasings per dag. Hierdie getal is relatief klein vir ‘n sosialemediadatastel, maar die getal plasings het wel skerp toegeneem oor hierdie tydperk. Figuur 1 dui die getal plasings oor tyd aan. Hier kan duidelik gesien word dat die hutsmerk #afrikaner oor tyd gewilder geword het. Die skerp styging in die gebruik van #afrikaner hou moontlik verband met die skerp styging in die gewildheid van Instagram in onlangse jare, ook in Suid-Afrika (neem in ag dat die meeste plasings in Afrikaans gemaak is).

Figuur 1. Die getal plasings oor tyd

Plasings het gemiddeld 115,4 houvans elk ontvang, met slegs 0,74% van plasings wat geen houvans ontvang het nie.  Die Instagram-gemeenskap is derhalwe baie aktief betrokke by hierdie plasings en dui gereeld aan dat hulle van ‘n plasing hou.

Die 1 652 betrokke gebruikers het altesaam 122 593 hutsmerke gebruik, waarvan 14 230 unieke hutsmerke is, teen ‘n gemiddeld van 16,78 hutsmerke per plasing. Figuur 2 dui die gewildste hutsmerke aan. Hierdie hutsmerke dui reeds aan dat K.O.B.U.S.! se stelling dat die Afrikaner bekend is vir gekskeer, wel op Instagram gevind word. Naas die hutsmerk #afrikaner figureer hutsmerke soos #grappie, #grappe, #humor en #memes sterk. Hutsmerke is gekleur volgens hul kategorieë (sien verderaan).

Figuur 2. Die gewildste hutsmerke

Tabel 3 dui die twintig gewildste hutsmerke aan, tesame met hulle klassifikasies en voorkomste in hierdie datastel. Hierdie klassifikasies word verderaan in groter besonderhede bespreek.

Tabel 3. Die twintig gewildste hutsmerke

Klassifikasie Hutsmerk Telling
erfenis en kultuur #afrikaner 5 736
taal #afrikaans 2 317
plek #southafrica 2 123
plek #suidafrika 1 515
grond #boer 1 145
meta #photography 680
grond #boerdery 622
grond #plaas 565
meta #love 558
plek #afrika 550
meta #photographer 547
grond #farmlife 522
grond #farmer 515
grond #plaaskind 498
grond #boerseun 495
grond #boere 472
#war 466
grond #agriculture 419
taal #trotsafrikaans 414
taal #afrikaansememes 381

Figuur 3 dui die kategorieë aan wat die meeste in hierdie datastel voorkom, en hulle groottes verwys na die getal hutsmerke wat onder elke kategorie ingedeel is. Hutsmerke wat minder as drie keer in hierdie datastel voorgekom het, is uit die grafiek verwyder ten einde hutsmerkergebruik duideliker voor te stel. Let daarop dat humor ‘n groot rol speel in die kategorie meta, met hutsmerke soos #grappie, #memes, #humor en #grappe wat gereeld voorkom. Hierdie is ook die kategorie wat die meeste in hierdie datastel voorkom. Die hutsmerke in die kategorie plek verbaas nie met vele hutsmerke wat op Suid-Afrika dui, maar wanneer hutsmerke nie bloot na Suid-Afrika verwys nie, is die plekke wat die meeste met die Afrikaner verbind word, Pretoria, Kaapstad, die Vrystaat en Orania. Die derde grootste kategorie is erfenis en kultuur, en hier is hutsmerke soos #afrikaner te sien. Die kategorie grond is in die vierde plek, wat daarop dui dat die Afrikaner sterk met ‘n landelike omgewing en boerdery verbind word. Die kategorie taal bevat hutsmerke wat meesal met Afrikaans saamhang. Sommige van hierdie kategorieë word hieronder in meer detail bespreek.

Figuur 3. Hutsmerke en hul kategorieë

Die kategorie meta is in Figuur 4 hieronder vergroot. Hier kan gesien word dat hutsmerke wat met fotografie saamhang, gereeld saam met #afrikaner gebruik word, tesame met hutsmerke wat met liefde en gedigte verband hou en die vele hutsmerke wat met humor verband hou (#grappie, #memes, #snaaks, #grappies, #snaaksemense, en #snaaksie). Hutsmerke wat met fotografie verband hou kan ook verbind word met hutsmerke wat met natuur verband hou, omdat vele plasings foto’s van natuurtonele insluit. Die kategorie meta staan met ander woorde nie los van die kategorie natuur nie, en ook nie los van die kategorieë plek en grond nie omdat die natuur uiteraard verbind is tot ‘n spesifieke plek en ‘n liefde vir die natuur ook verband hou met ‘n liefde vir ‘n landelike omgewing. Op dieselfde wyse staan die kategorie meta ook nie los van taal nie omdat ‘n liefde vir gedigte ook ‘n liefde vir die taal impliseer.

Figuur 4. Die hutsmerke onder die kategorie meta

Figuur 5 hieronder dui die kategorie grond aan. Hier kan gesien word dat die meerderheid hutsmerke met plase te make het, alhoewel die probleem van boere en Boere ‘n verkeerde klassifikasie in die geval van die Anglo-Boereoorlog (#boerwar) veroorsaak het. Nietemin is die Afrikaner se verbintenis met ‘n landelike opset duidelik te sien daarin dat grond een van die kategorieë is wat die meeste voorkom.

Figuur 5. Die kategorie grond

Kleiner kategorieë soos politiek, Instagram en sosiale media, natuur, geloof en sport is só klein dat dit nie op die grafiek in Figuur 3 hierbo sigbaar is nie. Dít is reeds betekenisvol, want die klein aantal hutsmerke wat in hierdie kategorieë voorkom, wys daarop dat Afrikaners op Instagram meesal met humor (meta), Suid-Afrika (plek), Afrikanererfenis (erfenis en kultuur), ‘n landelike omgewing (grond) en Afrikaans (taal) verbind word, nie met apartheid (politiek) of rugby (sport) nie. Ten einde die kategorie politiek beter te verken, kan hierdie afdeling vergroot word, soos in Figuur 6 hieronder. Hier kan gesien word dat die Afrikaner sterk met apartheid en rassisme verbind word, maar ook met regses en die VSA se voormalige President Donald Trump, alhoewel die meeste ander politieke hutsmerke verband hou met plaasaanvalle. Die verbintenis met apartheid is met ander woorde duidelik, maar nie oorheersend nie, aangesien die politieke kategorie eerstens ‘n klein kategorie is en tweedens opgemaak word uit vele hutsmerke wat met plaasaanvalle saamhang.

Figuur 6. Die kategorie politiek

Ander kleiner kategorieë kan ook sodanig vergroot word. Sport is in hierdie opsig interessant, en Figuur 7 hieronder dui die hutsmerke aan wat in hierdie kategorie ingedeel is. Slegs twee sportsoorte is in die datastel met die Afrikaner verbind: rugby en krieket. Tennis, atletiek, sokker en ander sportsoorte het glad nie in die datastel voorgekom nie. Die Afrikaner is met ander woorde nie op Instagram sterk verbind met sport nie, maar wanneer verwysings na sport wel voorkom, is dit oorwegend na rugby.

Figuur 7. Die kategorie sport

Uit die kategorieë in Figuur 3 en ‘n verkenning van die hutsmerke wat die meeste onder elke kategorie voorkom, kan ‘n aantal afleidings gemaak word. Die Afrikaner word inderdaad verbind met “apartheid, rugby en gekskeer” soos K.O.B.U.S.! se waarneming was, maar die verbintenis met politiek en met rugby is gering op Instagram. Wat eerder oorheers, is humor: grappe en memes kom gereeld voor en verteenwoordig die grootste kategorie hutsmerke wat saam met #afrikaners gebruik word. Naas humor word die Afrikaner op Instagram die sterkste verbind met sy erfenis, land van oorsprong en taal, en ‘n landelike omgewing, met geloof wat nog minder as politiek aangetref word. Neem ‘n mens in ag dat sommige hutsmerke in die kategorie meta, byvoorbeeld dié wat na gedigte verwys, ook met taal saamhang, en ander, soos dié wat na fotografie verwys, ook saam met die kategorieë plek en natuur gelees kan word, dan is die Afrikaner se verbintenis tot Suid-Afrika en ‘n landelike omgewing duidelik.

Gelees teen die agtergrond van die eienskappe van die Afrikaner wat hierbo uitgelig is, is die belangrikste begrippe wat met die Afrikaner op Instagram verbind word met ander woorde nie geloof en ‘n konserwatiewe ingesteldheid nie, maar eerder taal, erfenis, ‘n verbintenis tot die grond, die land van oorsprong en humor.

Neem in ag dat Instagram-gebruikers enige hutsmerker kan kies, ongeag waar hulle woon of hulle eie agtergrond. Dit beteken dat sommige Instagram-gebruikers as Afrikaners sal identifiseer, maar ander sal van buite oor die Afrikaner skryf. Bostaande opsomming van hutsmerkers dui met ander woorde op perspektiewe van binne en van buite, sonder die moontlikheid om te onderskei tussen watter gebruikers as Afrikaners identifiseer en watter nie.

Slot

Daar is in die huidige artikel ondersoek ingestel na watter begrippe tans met die Afrikaner op Instagram verbind word. Met behulp van ‘n volledige datastel van Instagram-plasings oor die afgelope nege jaar is aangetoon dat die Afrikaner sterk met humor, sy land van oorsprong (Suid-Afrika), sy erfenis, sy taal, en ‘n landelike omgewing verbind word. Daar is ook geargumenteer dat liefde vir die natuur en fotografie, wat sterk in hierdie datastel figureer, ook in verband gebring kan word met die landelike omgewing, terwyl die groot voorkoms van hutsmerke wat na die digkuns verwys, ook uitgelig is. Geloof, wat voorheen sterk met die Afrikaner verbind is en in die literatuur oor die Afrikaner uitgelig word, word tot ‘n mindere mate met die Afrikaner op Instagram verbind, alhoewel daar steeds ‘n groot aantal plasings gemaak word met hutsmerke wat op die Protestantse Christelike geloof dui. Wat politiek aanbetref, is aangetoon dat verwysings na apartheid en rassisme wel voorkom, maar tot ‘n mindere mate, en hutsmerke wat na politieke kwessies verwys, is gereeld hutsmerke wat plaasaanvalle betrek.

Alhoewel dit interessant is om ondersoek in te stel na wat die meeste met die Afrikaner verbind word, sal dit eweneens sinvol wees om ondersoek in te stel na hoe divers hierdie bevolking is. Combrink (2019:225) merk tereg op dat die Afrikaner nie te eng omskryf moet word nie, en die uiteenlopendheid van Afrikaners wat in die huidige studie genoem is – van K.O.B.U.S.! tot Eugène Terre’Blanche – noop ‘n mens om versigtig te wees met veralgemenings. ‘n Toekomstige studie kan ondersoek instel na hoe sosiale media data ook aangewend kan word om die diversiteit onder die Afrikaner te bestudeer.

Bibliografie

Ang, C. 2021. Ranked: The World’s Most Popular Social Networks, and Who Owns Them. https://www.visualcapitalist.com/ranked-social-networks-worldwide-by-users/ (geraadpleeg op 27 Januarie 2022).

Brokensha, S., Kotzé, E. en Senekal, B. A. 2019. Reinventing the Social Scientist and Humanist in the Era of Big Data – A Perspective from South African Scholars. Bloemfontein: African Sun Media. doi: 10.18820/9781928424376.

Combrink, C. 2019. ’n Afrikanertydskapsule, Stilet, 31(1): 221–225.

Du Toit, A. 2008. ‘Afrikaander circa 1600’: Reflections and Suggestions Regarding the Origins and Fate of Afrikaner Nationalism, South African Historical Journal, 60(4): 562–578. doi: 10.1080/02582470802622586.

Du Toit, A. T. 2013. Wie is ons, Afrikaners of Boere? https://www.dievryburger.co.za/2013/05/wie-is-ons-afrikaners-of-boere/ (geraadpleeg op 14 Oktober 2021).

Finlayson, K. 2019. ‘ik ben een afrikaander’: Redrawing Afrikaner ethnic boundaries in New Zealand, Sites: a Journal of Social Anthropology and Cultural Studies, 16(2). doi: 10.11157/sites-id436.

Goldstuck, A. 2020. Under the skin of Social Media in South Africa, in Ornico (ed.) The South African social media landscape. Social media myths high walls and controlled data. Johannesburg: Ornico: 52–53.

Hendrich, G. 2013. ‘Wees jouself’: Afrikaner kultuurorganisasies in Rhodesië (1934-1980), New Contree, 66: 151–174.

Hollfelder, N., Erasmus, J.C., Hammaren, R., Vicente, M., Jakobsson, M., Greeff, J.M., en  Schlebusch, C.M. 2020. Patterns of African and Asian admixture in the Afrikaner population of South Africa., BMC Biology, 18(1): 16. doi: 10.1186/s12915-020-0746-1.

Ichau, E., Frissen, T. en d’Haenens, L. 2019. From #selfie to #edgy. Hashtag networks and images associated with the hashtag #jews on Instagram, Telematics and Informatics, 44: 101275. doi: 10.1016/j.tele.2019.101275.

K.O.B.U.S.! 2004. 100% Skuldgevoelvry. ENT Entertainment.

Kotzé, E. en Senekal, B. A. 2020. Not just a language with white faces: Analysing #taalmonument on Instagram using deep learning, South African Journal of Transdisciplinary Research, 16(1): a871.

Nagel, J. 1994. Constructing ethnicity: Creating and recreating ethnic identity and culture, Social problems, 41(1): 152–176. doi: 10.2307/3096847.

Onafhanklike Ondersoek Raad. 1996. Rightwing directory. Johannesburg: Universiteit van die Witwatersrand.

Ornico/World Wide Worx 2021. SA Social Media landscape report 2021. Johannesburg: Ornico/World Wide Worx.

Pienaar, T. 2007. Die aanloop tot en stigting van Orania as groeipunt vir ‘n Afrikaner-volkstaat. MA-verhandeling. Universiteit van Stellenbosch.

Pretorius, C. en Froneman, J. D. 2018. Vrye Weekblad se gebruik van Boer as prys- en skeldnaam in ’n kulturele tussenruimte, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58(4–1): 752–769. doi: 10.17159/2224-7912/2018/v58n4-1a9.

Senekal, B. A. 2019a. ’n Sisteemteoretiese ontleding van gebruikersinteraksies rondom Deon Meyer se Twitter-profiel: ’n resepsiestudie in die digitale era, LitNet Akademies Geesteswetenskappe, 16(3): 75–102.

Senekal, B. A. 2019b. Ras en Afrikaneretnisiteit: ʼn Kwantitatiewe ondersoek na huidige opvattinge, Ensovoort, 40(8).

Senekal, B. A. 2020. The blue-eyed devil rapists: An exploration of the discourse on Twitter around land thieves in a South African context, Ensovoort, 41(7).

Senekal, B. A. 2021. Ou wyn in nuwe sakke: Die onlangse herlewing van die Germaanse kultuur op Instagram, LitNet Akademies Geesteswetenskappe, 18(2): 132–160.

Vestergaard, M. 2001. Who’s Got the Map? The Negotiation of Afrikaner Identities in Post-Apartheid South Africa, Daedalus, 130(1): 19–44.